Nuus 07:00
BULLETIN 22 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cachalia bevestig daar is geen bedreigingsevaluering vir teen-korrupsie prokureurs en ouditeure nie
# Gholf: Jayden Schaper is die Mauritius Ope-kampioen
# En die Weerdiens waarsku teen bogemiddelde reënval en hewige storms
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het bevestig die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nie enige bedreigingsevaluerings vir regspraktisyns, ouditeurs en likwadateurs gedoen wat sedert 2020 aan korrupsiesake werk nie. Dit volg te midde van toenemende kommer oor die veiligheid van beroepslui wat by staatskapingsvervolgings en ander hoë-risiko-ondersoeke betrokke is, ná geteikende aanvalle op regs- en insolvensiepraktisyns. Die gebrek aan formele evaluerings laat vrees ontstaan oor hulle beskerming terwyl hulle aan sensitiewe korrupsiesake werk.
# Die DA in Gauteng vra dat premier Panyaza Lesufi dringend saam met die polisie ‘n gespesialiseerde taakspan saamstel om massa-skietvoorvalle in die provinsie te ondersoek. Nege mense is gisteroggend in ‘n taverne in Bekkersdal aan die Wes-Rand doodgeskiet. Vroeër vandeesmaand is ten minste elf mense in ‘n hostel in Saulsville-township, wes van Pretoria, vermoor. Jade Miller van die DA sê die provinsie moenie die massamoord-hoofstad van Suid-Afrika word nie:
# Die Australiese premier, Anthony Albanese, is gister uitgejou toe hy by ‘n seremonie opgedaag het ter herdenking van een week sedert die dodelike Bondi Beach-slagting in Sydney. Vyftien mense is dood toe twee gewapende mans losgebrand het by ‘n geleentheid wat die Joodse fees van Hanukkah gevier het. Die Joodse gemeenskap in Australië glo Albanese se regering kon meer doen om die aanval te voorkom. Die Israelse premier Benjamin Netanyahu het Albanese se regering ook beskuldig dat hulle niks doen om die verspreiding van antisemitisme in Australië te stop nie.
# Gholf: Jayden Schaper van Suid-Afrika het die Amerikaner Ryan Gerard in ‘n uitspeelwedstryd geklop om die Mauritius Ope te wen. Albei spelers het baansyfer op die eerste uitspeelputjie behaal, maar Schaper het ‘n verstommende arend op die tweede uitspeelputjie geslaan om sy tweede DP World-toertitel te verower. Casey Jarvis van Suid-Afrika het derde geëindig. Schaper sê dit was die beste paar weke van sy loopbaan, na sy Alfred Dunhill-kampioenskaptriomf:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-49-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-363-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku die land moet hom regmaak vir bogemiddelde reënval en storms in die komende dae. ‘n Vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir hewige donderstorms oor die sentrale binneland, met ‘n Geel Vlak 4-waarskuwing vir die westelike binneland, insluitend die gevaar van weerlig, sterk winde en hael. Weervoorspeller Andre Fourie waarsku in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika oor verwagte moeilike rytoestande en stormverwante reisontwrigtings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….