Nuus 08:00
BULLETIN 20 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se burgemeester moedig matrieks aan om met toewyding toekomstige bedrywighede na te volg
# ‘n Sentrum verwelkom beslissing dat Binnelandse Sake wat ID’s blokkeer ongrondwetlik is
# En, motorsport: Sainz word die oudste wenner van Dakar
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, loof die matriekklas van 2023 met sy indrukwekkende slaagsyfer van 82,9-persent, aansienlik beter as die 80,1-persent van 2022. Die burgemeester het die veerkragtigheid geloof van byna 900-duisend leerders te midde van sektor-uitdagings en die Tshwane Suid-distrik uitgesonder vir sy uitstaande slaagsyfer van 90,4-persent, wat dit onder die top tien in die land plaas. Brink het sy dank uitgespreek teenoor onderwysers, skoolbestuur en ouers vir hul ondersteuning. Hy moedig matrieks met swakker uitslae aan om alternatiewe moontlikhede vir verbetering te ondersoek:
Die ANC sê intussen hy is diep teleurgesteld met die DA-geleide koalisieregering in Tshwane, met verwysing na kollosale mislukkings sedert 2016. Die ANC beskuldig die party van korrupsie en onbevoegdheid en wys op vier burgemeesters se vertrek te midde van skandale en finansiële wanbestuur, soos verklaar deur die Ouditeur-generaal, wat die munisipaliteit as in effek bankrot bestempel het. Die ANC kritiseer burgemeester Brink, vir beweerde vyandigheid teenoor werkers en ‘n gebrek aan dienslewering. Hulle veroordeel ook die koalisiemag-dinamika en moedig inwoners aan om die DA te verwerp in die komende algemene verkiesing.
# Die Sentrum vir Kinderreg is baie ingenome met die beslissing van die Hooggeregshof in Pretoria dat Binnelandse Sake wat ID’s van kinders blokkeer, ongrondwetlik optree. Die hof het gelas die departement moet onverwyld die blokkering staak van die ID’s van kinders van ouers wat ondersoek word. Daarbenewens moet Binnelandse Sake binne 12 weke ‘n verslag voorlê wat bevestig die blokkering is verwyder. Die senior prokureur van die organisasie, Liesl Muller, beklemtoon die belangrikheid van wettige optrede en benadruk die staat is verplig om die wet te gehoorsaam:
# Die langverwagte verhoor van ‘n kindersoldaat wat ‘n bevelvoerder in die berugte Lord’s Resistance Army geword het, het in Oeganda begin. Thomas Kwoyelo staan tereg op meer as 90 aanklagte, insluitend moord, verkragting en die werwing van kindersoldate, wat hy ontken. Hy is die eerste LRA-bevelvoerder wat deur ‘n Oegandese hof verhoor word, en wat volgens die BBC ‘n waterskeidingsoomblik vir die land se regstelsel is. Kwoyelo was die laaste 14 jaar ‘n verhoorafwagtende in voorverhore, wat ontleders gedeeltelik toeskryf aan die omvang en die kompleksiteit van die beweerde misdade.
# En, motorsport: Die Formule Een-bestuurder, Carlos Sainz Junior, was die eerste om sy pa, Carlos Senior, geluk te wens toe hy die oudste bestuurder geword het om die uitputtende Dakar-tydren in Saoedi-Arabië te wen. Die 61-jarige, met die bynaam, “Matador”, het vier skofte gewen om ʼn eerste titel vir Audi in te palm. Guillaume de Mevious van België was tweede, gevolg deur die Fransman Sebastian Loeb. Die Amerikaner Ricky Brabec het die afdeling vir motorfietse gewen en Cristina Gutierrez van Spanje die liggewig Challenger-klas – slegs die tweede vrou wat die titel kon verower.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….