Nuus 08:00
BULLETIN 29 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisie rapporteer meer as 1 500 geslagsgeweld- en vrouemoordskuldigbevindings
# Die VF Plus sê die polisie se misdaadstatistieke is onbetroubaar
# En krieket: Die Proteas en Indië pak mekaar môre in hul eerste eendagwedstryd
# Die adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Tebello Mosikili, het beduidende vordering aangekondig in die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord in die eerste twee kwartale van die 2025/26 boekjaar. Altesaam een-duisend-550 oortreders is tussen April en September skuldig bevind. In die eerste kwartaal is 652 oortreders tronk toe gestuur, insluitend 99 wat lewenslank gevonnis is. In die tweede kwartaal was daar 898 skuldigbevindings, met 132 lewenslange vonnisse. Mosikili sê die resultate weerspieël verskerpte ondersoek- en aanklaerpogings landwyd.
Intussen sê die Vryheidsfront Plus die jongste misdaadstatistiek kan nie vertrou word nie, en verwys na korrupsie en wanbestuur op die hoogste vlakke in die polisie. Volgens die party het slegs 22-persent van Suid-Afrikaners steeds vertroue in die polisie, met oorlaaide speurders, forensiese agterstande en onderbemande misdaadintelligensie wat wetstoepassing verswak. Wouter Wessels van die VF Plus waarsku die publiek se vertroue in die polisie sal verder afneem namate voortgesette ondersoeke dieper tekortkominge in polisiëring blootlê:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die regering se toewysing van 306-miljoen-rand om verwaarloosde polisiestasies te herstel verwelkom, nadat 118 onveilig bevind is. Die vakbond waarsku dat slegs 35-miljoen-rand tot dusver bestee is, wat kommer wek oor stadige vordering en moontlike korrupsie. Claude Naiker van die vakbond sê polisiebeamptes in provinsies soos Noordwes, Limpopo en KwaZulu-Natal het onveilige werksomstandighede wat moraal en misdaadbestryding beïnvloed:
# Die Unite for Change-leiersraad sal in die aanloop tot die 2026 plaaslike regeringsverkiesing vandag ‘n massavergadering in Soweto toespreek. Die leier van die GOOD-party Patricia de Lille, BOSA-leier Mmusi Maimane, en RISE Mzansi-leier Songezo Zibi sal ondersteuners in Kliptown inlig. Mabine Seabe van Unite for Change sê Johannesburg word as die mees betwiste metro beskou:
# Agentskappe van die Verenigde Nasies het Vrydag ‘n beroep gedoen op Washington om asielsoekers steeds toegang tot die land te bied, nadat president Donald Trump belowe het om migrasie uit “Derde Wêreld”-lande te staak ná ‘n aanval naby die Withuis. Dit volg na verhoogde migrasiemaatreëls deur Trump sedert die skietery Woensdag wat volgens ondersoekbeamptes uitgevoer is deur ‘n Afghaanse burger wat in 2021 na Amerika gekom het. Die VN se menseregtekantoor sê asielsoekers is geregtig op beskerming ingevolge internasionale reg, terwyl die VN se vlugtelingagentskap bygevoeg het die meeste vlugtelinge is wetsgehoorsame lede van die gasheergemeenskap.
# En krieket: Suid-Afrika en Indië se manspanne pak mekaar môre in die eerste van drie eendagwedstryde in Ranchi na die Proteas Indië met 2-0 in die toetsreeks oorweldig het. Suid-Afrika het nie veel geluk gehad in die onlangse witbalreekse in Pakistan nie en albei verloor, maar hulle is terug op volle sterkte, met kaptein Temba Bavuma en Quinton de Kock wat na verwagting hul suksesvolle openingsvennootskap sal voortsit. Intussen het Indië hul tweede toetsreeksnederlaag tuis binne ‘n jaar beleef, en is desperaat om die bordjies in die korter formate te verhang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….