Nuus 08:00
BULLETIN 26 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê mans en seuns moet betrokke raak by die stryd teen geslagsgeweld
# Die hoofregter sê die Konstitusionele Hof het slegs 13-persent van sy uitsprake betyds gelewer
# En Zelensky sê veiligheidsbesluite oor Oekraïne moet Oekraïne insluit
# President Cyril Ramaphosa sê geen samelewing kan gedy terwyl geslagsgeweld en vrouemoord voortduur en die mag van vroue ontken word nie. Dit was gister die begin van die jaarlikse veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Vanjaar se tema is Letsema: Mans, vroue, seuns en dogters werk saam om geslagsgeweld te beëindig. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die stryd teen geslagsgeweld kan nie toelaat dat mans en seuns buite rekening gelaat word:
# Hoofregter Mandisa Maya sê die afgelope boekjaar is slegs 73-persent strafregtelike sake afgehandel wat minder is as die teiken van 75-persent. Sy het die jaarlikse regterlike verslae vir die 2023/2024- en 2024/2025-boekjaar bekendgemaak. Slegs ses van die land se 26 hoër howe het in 2024/2025 die teiken gehaal dat 70-persent voorbehoue uitsprake binne drie maande gelewer moet word. Die Konstitusionele Hof het die swakste gevaar en net 13-persent van sy voorbehoue uitsprake is betyds gelewer. Maya skryf dit toe aan die sake se hoëprofiel- en ingewikkelde aard.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê voorlopige vooruitskattings toon die G20-leiersberaad het tussen een- en drie-miljard-rand tot die provinsie se ekonomie bygedra. Die beraad is die eerste keer in Afrika gehou en word as ‘n sukses beskou. Die polisie het 13 mense in verband met G20-verwante oortredings gearresteer, wat twee lede van Operasie Dudula insluit. Lesufi sê buiten die ekonomiese voordele, het die beraad die regering belangrike lesse geleer oor flink regering, interregeringskoördinering, gebruik van tegnologie en bou van vennootskappe:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne maan internasionale bondgenote om hul veiligheidsondersteuning te handhaaf nadat Europese leiers ʼn alternatiewe voorstel vir die Amerikaanse vredesplan van 28 punte voorgelê het. Hy het gister ʼn vergadering van die Leiers van die Koalisie van Gewilliges toegespreek wat die leiers van die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Duitsland virtueel bygewoon het. Die kwessie van veiligheidswaarborge is slegs een van die sake waaroor Moskou en Kiëf verskil. Zelensky sê veiligheidsbesluite oor Oekraïne moet Oekraïne insluit:
# Gholf: Die belowende Suid-Afrikaanse sterspeler Christo Lamprecht het ‘n persoonlike uitnodiging van Gary Player ontvang om van 4 tot 7 Desember aan die Nedbank-uitdaging by Sun City deel te neem. Player skryf dit was ‘n groot vreugde om Lamprecht se vordering deur die jaar dop te hou en hoe hard hy gewerk het om ‘n plek in die PGA-toer te bespreek. Hy sê hy sien daarna uit om Lamprecht die eerste keer op Sun City te sien deelneem aan Afrika se major-toernooi voor sy tuisskare.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17 sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-64 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-725 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164 dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….