Nuus 08:00
BULLETIN 11 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwag die Mediumtermyn-begroting sal oorwinnings weerspieël
# BOSA wil toegang hê tot die wangedragregister in die staatsdiens
# En ‘n motorontploffing eis ten minste agt lewens in Nieu-Delhi
# Die DA sê die Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring mag nie groot besteding, inkomste-tekorte en hoër belasting bevat nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer môre sy mediumtermynbegroting in die Parlement. Die begrotingsverklaring handel oor die regering se ekonomiese beleidsraamwerk, verskaf bygewerkte ekonomiese vooruitsigte, wysig departementele begrotings en gee goedkeuring vir noodbesteding. Mark Burke van die DA sê hy verwag die begroting sal welverdiende oorwinnings weerspieël en versterk:
# Build One South Africa het gister ‘n aansoek ingedien vir die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die regering se sentrale register van wangedrag in die staatsdiens te bekom. Die party sê die register, met die name van amptenare wat aan oortredings skuldig bevind en ontslaan is, bly vir die publiek verborge ten spyte van regulasies wat vroeër vanjaar gepubliseer is. Die BOSA-woordvoerder, Roger Solomons, voer aan dat geheimhouding korrupte amptenare beskerm en pogings ondermyn om ‘n etiese staat te bou.
# ActionSA se burgemeesterskandidaat in Ekurhuleni, Xolani Khumalo, sê sy jare as gemeenskapsaktivis het hom geleer om misdaad op grondvlak te beveg. Hy is Maandag amptelik as raadslid in die metro ingesweer en die party sê dit sal hom die nodige bestuursondervinding voor die munisipale verkiesing gee. Khumalo, wat bekend is as aanbieder van die televisiereeks Sizok’thola, sê hy is nie van plan om misdadigers se harte te wen nie:
# Minstens agt mense is in Indië dood toe ‘n massiewe ontploffing naby die Rooi Fort, een van Nieu-Delhi se gewildste geskiedkundige plekke, plaasgevind het. Sowat 20 mense is in die voorval beseer. ʼn Stadig bewegende voertuig het by ʼn rooi verkeerslig stilgehou voor dit ontplof het. Lughawens, treinstasies, staatsgeboue en erfenisterreine is op ʼn hoë gereedheidsvlak geplaas. Die Indiese minister van Binnelandse Sake, Amit Shah, sê hulle ondersoek alle moontlikhede en die Nasionale Ondersoekagentskap is besig met die taak.
# Tennis: Die tweede gekeurde Jannik Sinner van Italië het sy titel verdedig met ʼn oorwinning in Turyn. Die 24-jarige Sinner het met die Kanadees, Felix Auger-Aliassime, afgereken om sy kanse op die eerste plek op die ranglys lewend te hou indien hy die Spanjaard, Carlos Alcaraz, kan klop. Taylor Fritz van Amerika het die kwalifiseerder van Italië, Lorenzo Musetti wat sy debuut by die toernooi maak, verslaan. Sinner sê dis altyd spesiaal om voor sy tuisskare te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-794-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-144-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….