Nuus 08:00
BULLETIN 9 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika sluit aan by Pous Leo XIV se verbintenis tot vrede regoor die wêreld
# Eskom sê die hoër energiebeskikbaarheidsfaktor verminder afhanklikheid van dieselopwekking aansienlik
# En rugby, die Bokke klop Frankryk met ‘n indrukwekkende aanslag
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sluit aan by Pous Leo XIV se verbintenis tot vrede, voorspoed en gelykheid regoor die wêreld. Ramaphosa was op sy eerste besoek aan die Pous in Rome. Hy het verwys na gedeelde doelwitte en finansiële hervormings en multilaterale samewerking vir globale uitdagings:
Ramaphosa het ook sy eerste ontmoeting met Pous Leo XIV in die Vatikaan as besonder betekenisvol beskryf, aangesien dit Suid-Afrika se eerste hoëvlak-betrokkenheid met die nuut aangestelde Pous verteenwoordig. Ramaphosa sê sy verkiesing as Pous in Mei vanjaar het ‘n belangrike geleentheid gebied om bilaterale betrekkinge met die Pous te herbevestig en te versterk. Die president sê Suid-Afrika is die tuiste van byna vier-miljoen Katolieke:
# Eskom sê die hoër energiebeskikbaarheidsfaktor het die afhanklikheid van dieselopwekking aansienlik verminder, aangesien meer kostedoeltreffende primêre energiebronne beskikbaar is. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokoena, sê dieseluitgawes vir die afgelope week was feitlik nul, in vergelyking met 10,49-miljard-rand gedurende dieselfde tydperk verlede jaar. Sy sê dit bevestig die finansiële en bedryfsvoordele van verbeterde opwekkingsbeskikbaarheid:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die Stad wil die eerste in Suid-Afrika wees om passasierspoorvervoer oor te neem na die ter tafellegging van ‘n volledige spoorwegbesigheidsplan. Die plan is aan die Portefeuljekomitee vir Stedelike Mobiliteit voorgelê, met die Stadsraad wat die aanvaarding daarvan op 4 Desember sal oorweeg. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê die plan bied ‘n padkaart vir hoe Kaapstad se passasierspoorvervoer herstel kan word:
# Rugby: Suid-Afrika het ‘n vurige Franse span gisteraand op die Stade de France in Parys met ‘n indrukwekkende aanslag in die laaste 15 minute van hul ontmoeting geklop. Die Bokke het Le Bleu met 32-17 geklop, nadat hulle met rustyd 13-14 agter was. Suid-Afrika se punte het gekom van vier drieë met drie doelskoppe en twee strafskoppe deur die Man van die Wedstryd, Sacha Feinberg-Mngomuzulu, wat ook ‘n drie gedruk het. Die gashere het twee drieë gedruk. Lood de Jager moes die veld net voor rustyd verlaat na ‘n rooikaart vir ‘n hoë skoueraanval, wat die Bokke met slegs veertien man gelaat het. Hulle oorweldigende skrumwerk teen die einde het die oorwinning help beklink.
# En ten slotte, Krieket: Pakistan het die eendagreeks ten Suid-Afrika 2-1 ingepalm na ‘n gemaklike oorwinning van sewe paaltjies in die derde en laaste wedstryd gister in Faisalabad. Suid-Afrika het die loot gewen en eerste gekolf met Quinton de Kock op 53 en Lhuan-dre Pretorius op 39 wat die beurt goed begin het. Pakistan se boulers het die Proteas egter verwoes en beperk tot 143 almal uit, danksy uitstekende boulsyfers deur Abrad Ahmed met vier vir 27 en Salman Agha op twee vir 18. Pakistan het die wentotaal bereik met ‘n telling van 144 vir 3.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….