Nuus 08:00
BULLETIN 4 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Polisie, Paulina Boshielo, sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn
# Die IVP sê die koalisieregering in KwaZulu-Natal is bestendig
# En Trump verleen sy steun aan Andrew Cuomo as burgemeester van New York
# Die parlementêre ad hoc-komitee hervat vandag met ‘n nuwe getuie, die adjunkminister van Polisie, Paulina Shela Boshielo. Sy sal na verwagting lig werp op die werking van die taakspan vir politieke moorde. Die ander adjunkminister van Polisie, Cassel Mathale, het verlede week getuig hy is meer as ʼn jaar in die amp, maar weet nog nie wat sy verantwoordelikhede is nie. Woensdag sal die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, getuig en Donderdag en Vrydag kom die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, aan die beurt.
# Die DA het diep kommer uitgespreek oor die skielike bedanking van die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Karen Stander. Stander het verwys na dreigemente, boeliegedrag en rassisme. Delmaine Christians van die party doen ‘n beroep op Minister Buti Manamela om voor die Parlement te verskyn om hierdie bewerings aan te spreek en stappe uiteen te lê om bestuur en vertroue te herstel. Christians sê die DA belowe om streng toesig te handhaaf om NSFAS-bestendigheid te verseker en studentefinansiering te beskerm:
# Die IVP het sy volle ondersteuning aan en vertroue in die KwaZulu-Natalse regering van provinsiale eenheid onder leierskap van premier Thami Ntuli bevestig. Dit volg na berigte van spanning tussen die party en die ANC wat die provinsiale koalisieregering saam met die DA en die NFP vorm. Die NFP het onlangs aangekondig hy onttrek sy steun aan die provinsiale koalisieregering. Die IVP sê daar is geen krisis nie en voeg by hy sal voortgaan om op opbouende wyse met alle koalisievennote saam te werk om die langtermyn-lewensvatbaarheid van die koalisieregering te verseker.
# President Donald Trump van Amerika het New Yorkers aangemoedig om in vandag se burgemeestersverkiesing vir voormalige goewerneur Andrew Cuomo te stem. Hy voeg by die stad het geen kans op sukses of selfs oorlewing onder Zohran Mamdani se leierskap nie. Volgens meningspeilings is Mamdani, die Demokrate se kandidaat, voor Cuomo, wat as Onafhanklike deelneem nadat Mamdani hom in die Demokrate se benoemingsverkiesing uitgestof het. Die Republikeinse kandidaat, Curtis Sliwa, is laaste. Mamdani sê hy is nie verbaas dat Trump vir Cuomo ondersteun nie:
# Sokker: Suid-Afrika het die Onder-17 FIFA-Wêreldbeker vir mans op ʼn hoë noot afgeskop met ʼn 3-1-sege oor Bolivia in Doha, Katar. Emile Witbooi, Neo Bohloko en plaasvervanger Shaun Els se doele het die Amajimbos se heel eerste oorwinning in slegs hul tweede verskyning in ʼn Wêreldbeker sedert 2015, beklink. Afrigter Vela Khumalo se span het ook geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse nasionale span te word wat hul openingswedstryd by ʼn Wêreldbeker wen. Amajimbos takel Donderdag die gashere van Katar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33 sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-75 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-908 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-988 dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-54-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….