Nuus 08:00
BULLETIN 2 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ses mense is dood en drie beseer in ‘n verbyry-skietery in Boksburg
# COSATU sê hy verwelkom die toename in arbeidsinspeksies en -toepassing
# En in rugby: Rassie sê hy is tevrede met die Japan-oorwinning, maar maak gereed vir ‘n groot stryd vorentoe
# Die dodetal na Saterdagaand se verbyry-skietery in Reigerpark, Boksburg, het tot ses gestyg nadat een van die beseerde slagoffers in die hospitaal dood is. Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, generaal-majoor Fred Kekana, het sedertdien hulpbronne gemobiliseer om die voorval te ondersoek. Die Gautengse polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê drie mense word steeds in die hospitaal behandel:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering hersien die uitspraak van die Hooggeregshof in Lilongwe, Malawi, rakende die uitlewering van pastoor Shepherd en Mary Bushiri aan Suid-Afrika. Die Bushiris het in 2020 uit Suid-Afrika gevlug terwyl hulle op borgtog uit was vir bedrog en geldwassery. Woordvoerder Terrence Manase sê Kubayi het Suid-Afrika se verbintenis tot die versekering van geregtigheid herbevestig:
# Die vakverbond Cosatu het die Departement van Indiensneming en Arbeid se hernude fokus om inspeksies by werksplekke uit te voer, verwelkom. Die departement het vanjaar 10-duisend bykomende arbeidsinspekteurs aangestel en nog 10-duisend word vir volgende jaar beplan. Matthew Parks van Cosatu sê meer as 250-duisend werksplekke is geïnspekteer en meer as 120-duisend oortredings van arbeidswette is aangeteken. Hy vra strenger toepassing, veral in landbou, die bou- en gasvryheidsbedryf:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het Suid-Afrika se volle steun vir die internasionale verbod op kommersiële handel in ivoor- en renosterhoring bevestig. Minister Dion George het beklemtoon die land sal nie handel heropen nie en wildbeskerming bo wins prioritiseer. In die aanloop tot CITES CoP20 in Uzbekistan sê die minister Suid-Afrika bly verbind tot wetenskaplik gebaseerde bewaring, die bekamping van stropery en samewerking met internasionale vennote om olifante, renosters en gemeenskappe wat saam met wildlewe bestaan, te beskerm.
# Verskeie dae van stortreën, sterk winde en katastrofiese oorstromings het tot wydverspreide verwoesting oor die Karibiese Eilande gelei, met gesinne ontwortel is en noodsaaklike dienste ontwrig gelaat het. Orkaan Melissa het gemeenskappe oorstroom, gewasse vernietig en noodsaaklike infrastruktuur verlam, op haar pad deur Jamaika, Kuba, Haïti en die Dominikaanse Republiek. Paaie bly afgesny en kragonderbrekings duur voort terwyl gesinne sukkel om toegang tot skoon water en skuiling te kry. Volgens UNICEF is meer as 700-duisend kinders geraak, met baie wat nou haweloos is. Melissa is een van die kragtigste orkane ooit met wetenskaplikes wat meen klimaatsverandering is ‘n sleutelrede vir die storm se intensiteit.
# En tenslotte rugby: Rassie Erasmus het sy span geprys vir hul oortuigende oorwinning van 61-7 gisteraand teen Japan op Wembley-stadion in Londen. Alhoewel die Springbok-afrigter aangenaam verras is met die uitslag, sê hy die volgende paar weke gaan ander groot uitdagings inhou. Die Bokke het agt drieë gedruk en is ‘n strafdrie toegeken, met slegs ‘n verdoelde drie vir Japan. Erasmus en Bokkaptein Siya Kolisi stem saam die oorwinning is ‘n uitstekende begin vir die Novembertoer, maar hulle bly nugter oor wat op hulle wag. Die span vertrek vandag na Parys, waar hulle Saterdag teen Frankryk te staan kom op die Stade de France.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….