Nuus 08:00
BULLETIN 28 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof sal vandag Busisiwe Mkhwebane se aansoek aanhoor
# Samwu wil hê finansiële en bestuurskwessies in munisipaliteite moet aandag geniet
# En atletiek: Twee Suid-Afrikaners is deur na die 100m-finaal by die O.20-Kampioenskap
# Die Appèlhof hoor vandag die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se aansoek aan dat besluite van die Artikel 194-ondersoek wat tot haar afdanking gelei het, hersien word. Sy daag die Wes-Kaapse Hooggeregshof-beslissing uit wat haar aansoek verwerp het waarin sy sekere uitkomste verlang. Dit sluit in dat die ondersoek se verrigtinge onregmatig verklaar en tersyde gestel word, en die besluite van 17 Oktober 2022 hersien word. Volgens dié besluite is die aansoek om onttrekking wat sy teen die komiteevoorsitter, Qubudile Dyantyi, en die komitee- en DA-lid Kevin Mileham ingedien het, van die hand gewys.
# Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie vra dringende en beslissende optrede om die finansiële, bestuurs- en diensleweringsprobleme by die land se munisipaliteite te hanteer. Dit volg na die vrystelling van die 2022/2023-ouditverslag volgens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Ouditeur-generaal Tsakani Maluleke het bevind 110 munisipaliteite het saam 27,3-miljard-rand aan vrugtelose en verkwistende uitgawes bestee. Samwu se woordvoerder, Papikie Mohale, sê strenger maatreëls moet ingestel word om munisipale beamptes aanspreeklik te hou vir finansiële wangedrag:
# Rise Mzansi vra ‘n deeglike ondersoek na die mishandeling van plaaswerkers in Limpopo na die wrede moord op Mariah Makgato en Lucia Ndlovu, na bewering deur die varkplaaseienaar Zachariah Olivier en sy medepligtiges. Die vroue, wat kos waarvan die datum verval het, op die plaas wou kry, is na bewering vermoor en vir die varke gevoer. Die woordvoerder van Rise Mzansi Gugu Ndima eis geregtigheid en moedig die Departemente van Indiensneming en Arbeid, asook Landbou aan, om die omstandighede op die plaas en ander plase in die omgewing te ondersoek:
# Die Verenigde Nasies se Menseregte-agentskap doen ‘n beroep op Afghanistan se Taliban-heersers om onmiddellik die nuwe wet oor die Bevordering van Deug en die Voorkoming van Ondeug terug te trek. Die wetgewing skryf reëls voor vir die alledaagse lewe en plaas nog beperkings op die lewens van vroue. ʼn VN-woordvoerder, Ravina Shamdasani, sê die wetgewing bevestig beleide wat vroue se teenwoordigheid in die openbaar uitwis, hulle stemme stilmaak en hulle outonomie ontneem:
# Atletiek: Die Suid-Afrikaners, Bradley Nkoana en Bayanda Walaza, is deur na die mans se 100 meter-finaal by Wêreldatletiek se Onder 20-kampioenskap in Lima, Peru. Puripol Bonsoon van Thailand het Nkoana in hulle semi-finaal met ʼn duisendste van ʼn sekonde geklop. Walaza het herstel nadat hy vroeg in die wedloop gestruikel het en die derde semi-finaal met 10,33 sekondes gewen nadat hy die Brit, Teddy Wilson, geklop het. Nkoana en Walaza was albei deel van die aflosspan wat vroeër die maand silwer gewen het by die Olimpiese Spele in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-508-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-513-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….