Nuus 08:00
BULLETIN 3 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel ‘n koalisieonderhandelingspan saam onder leiding van Helen Zille en Tony Leon
# Die regering ontplooi ‘n rampspan in die Oos-Kaap
# En krieket: Die Wes-Indiese Eilande wen hul openingswedstryd teen Papoea-Nieu-Guinee by die T20-Wêreldkampioenskap
# Die DA-leier John Steenhuisen sê die party se federale uitvoerende gesag het eenparig ʼn resolusie aanvaar om gesprekke oor moontlike koalisies met ander politieke partye te voer. Die ANC het sy volstrekte meerderheid verloor wat nasionaal en in sommige provinsies die weg baan vir ʼn koalisieregering. Steenhuisen sê die onderhandelingspan wat bestaan uit Helen Zille, Ivan Meyer, Siviwe Gwarube, Alan Winde, Tony Leon en Ryan Coetzee, sal samesprekings met ander partye fasiliteer:
Intussen sê ActionSA hulle neem kennis van DA-leier John Steenhuisen se aankondiging wat planne van ʼn moontlike koalisie met die ANC bevestig. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die party moet dalk gereed maak om die nie-amptelike opposisie in die Parlement te word:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering het ‘n rampbestuurspan in die Oos-Kaap ontplooi om te help met noodleniging- en reddingspogings. Dit volg na die dood van sewe mense in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit te midde van swaar reën oor dele van die provinsie sedert die naweek. Meer as eenduisend mense is dakloos gelaat. Ntshavheni sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het ook ‘n helikopter ontplooi om ontoeganklike gebiede te help assesseer en om toegang te verkry:
# Twee mense is gister dood in twee aanvalle by stemlokale in die staat, Puebla, tydens Mexiko se geskiedkundige verkiesing. Stemlokale het gesluit in die verkiesing waar die land waarskynlik sy eerste vroulike president gaan kies. Die twee voorste presidentskandidate is Claudia Sheinbaum van die linkse Morena-party en Xochitl Gálvez van die konserwatiewe PAN-party, wat ʼn koalisie opposisiepartye verteenwoordig. Geweld het gereeld tydens die verkiesing voorgekom en 38 kandidate is vermoor.
# Krieket: Die T20-wêreldbeker se medegashere, die Wes-Indiese Eilande, het hulle Groep C-openingswedstryd in Guyana teen Papoea-Nieu-Guinee met vyf paaltjies gewen. Papoea-Nieu-Guinee het herstel van 50 vir vier en uiteindelik 136 vir agt in hul 20 boulbeurte aangeteken met Andre Russell en Alzarri Joseph wat elkeen twee paaltjies laat kantel het. In antwoord daarop het die speler van die wedstryd, Roston Chase, ʼn onoorwonne 42 gemoker en die tweemalige kampioene het geseëvier met ses balle wat oorbly. Suid-Afrika skop vandag hulle veldtog af teen Sri Lanka in New York.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-281-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….