Nuus 08:00
BULLETIN 10 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die vryheid van vroue kan nie afgemaak word nie
# Sjanghai berei voor vir Tifoon Dolphin wat op pad is
# En rugby: Die Cheetahs beroof die Stormers van ‘n Curriebeker-oorwinning op die nippertjie
# President Cyril Ramaphosa sê die vryheid van vroue is onverdeelbaar, aangesien geen kultuur, godsdiens, regering of ideologie die inkorting van vroue tot minderwaardige mense kan regverdig nie. Hy het gister die hoofrede gelewer tydens die Nasionale Vrouedag-herdenkingsgeleentheid by die Uniegebou in Pretoria. Ramaphosa sê sedert die koms van demokrasie het Suid-Afrika beduidende vordering gemaak om vroue te bemagtig. Hy sê die regering is daartoe verbind om ‘n Suid-Afrika te bou waarin geen vrou se potensiaal deur armoede, vooroordeel, geweld of diskriminasie beperk word nie:
Cope se vroueafdeling doen intussen ‘n beroep op ‘n nuwe era van vrouebemagtiging en -leierskap. COPE-vroue se woordvoerder, Elisa Mookho Ngoebo, sê geslagsgeweld, armoede, werkloosheid, diskriminasie en ekonomiese uitsluiting bly ‘n uitdaging vir vroue. Sy dring daarop aan dat vroue en jongmense moet stem vir verantwoordbare leierskap, skoon regering en verandering in die komende plaaslikeregeringsverkiesing:
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, sal hierdie week voor die Madlanga-kommissie verskyn oor sy fluitjieblaser-klag wat ondersoeke na senior Misdaadintelligensie-amptenare aan die gang gesit het. Adams sal na verwagting vrae moet beantwoord oor sy Artikel 27-verwysing en bewerings van korrupsie en die misbruik van geheime fondse. Sy getuienis volg na getuienis deur amptenare van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie rakende die hantering van die ondersoek. Adams is tans deur die Parlement geskors omdat hy die Nasionale Vergadering in oneer gebring het.
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling gaan die Toegang tot Geregtigheidsweek in Kimberley van stapel stuur as deel van pogings om geslagsgeweld en vrouemoord te bestry. Die veldtog bied gratis regsadvies en bystand by howe landwyd, met die fokus op vroue, kinders en kwesbare gemeenskappe. Justisiebeamptes, die Nasionale Vervolgingsgesag, die polisie en Regshulp Suid-Afrika bied dienste deur middel van inligtingstoonbanke. Die departement sê die inisiatief is daarop gemik om toegang tot geregtigheid te verbeter en gemeenskapsvrywilligerswerk te bevorder.
# Sjanghai hou sy asem op vir erge weer met Tifoon Dolphin wat op pad is. Stortreën en uiterste oorstromings word verwag. Plaaslike owerhede het ‘n Rooi Waarskuwing uitgereik wat inwoners aanspoor om binnenshuis te bly en nie-noodsaaklike aktiwiteite te staak. Vervoerstelsels verwag wydverspreide kansellasies, en openbare infrastruktuur maak gereed vir die uitwerking. As gevolg van veiligheidsoorwegings het die Amerikaanse konsulaat-generaal in Sjanghai alle dienste opgeskort. Reaksiespanne is op hoë gereedheidsgrondslag terwyl die streek voorberei vir die storm se volle krag.
# En rugby: ‘n Laat drie deur Faf de Klerk het die Cheetahs gister gehelp om ‘n oorwinning van 31-26 oor die Stormers-23 te behaal in hul Curriebeker-wedstryd op die Athlone-stadion in Kaapstad. Die besoekers het vyf drieë gedruk teenoor die Kapenaars se vier. Die oorwinning plaas die Cheetahs in die tweede plek op die punteleer, met dieselfde aantal punte as die Griekwas wat heelbo is. Die Stormers is nou sesde nadat hulle twee bonuspunte verdien het. Die Haaie, Pumas en Griekwas het ook die naweek oorwinnings aangeteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….