Nuus 08:00
BULLETIN 28 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering sal steeds onvermoeid werk om Madiba te eer
# Julius Malema sê vryheid is slegs vir ‘n paar mense wat met die ANC verbind word
# En, rugby: Groot VRK oorwinnings vir die Stormers en die Bulle
# President Cyril Ramaphosa sê ter nagedagtenis aan wyle president Nelson Mandela sal die regering steeds onvermoeid werk om die demokratiese ideale te bereik waaraan hy en baie ander hulle lewens gewy het. Ramaphosa het by die viering van Vryheidsdag by die Uniegebou gepraat. Hy sê baie min dae in die lewe van die nasie kan vergelyk word met die dag in 1994 toe vryheid gebore is en Suid-Afrika vir altyd verander het:
Die president van die EFF, Julius Malema, sê intussen daar was die afgelope 30 jaar vryheid vir slegs vir ‘n paar individue – diegene wat met die regerende party verbind word. Malema het die party se Vryheidsdagvieringe in Meadowlands, Soweto, gelei. Hy sê baie mense ly steeds onder die ANC. Daar is nie vryheid vir miljoene mense wat van plase afgesit word, by die werk uitgebuit word en of werkloos is nie:
# Die Oos-Londense Streekhof het die korrupsiesaak teen ‘n voormalige senior staatsamptenaar, Neil Naidoo en die sakelui, Kenny Govender en Matthew Pillay, tot September vir verhoor uitgestel. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Henry Mamothame, sê hulle staan tereg op verskeie korrupsieaanklagte en een van dwarsboming van die gereg, na beweerde pogings om twee ondersoekbeamptes met 3.5-miljoen-rand om te koop:
# Rugby: Na agtereenvolgende tuisnederlae in die Verenigde Rugby-kampioenskappe was die Stormers gisteraand in Kaapstad weer op koers met ‘n bonuspunt-oorwinning van 42-12 teen Leinster. Die Stormers is nou vyfde op die punteleer. Op Loftus het Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie beide vir die Bulle twee drieë teen die Ospreys ingeryg. Die Bulle se 61-24 bonuspunt-sege het aan hulle die derde plek op die punteleer besorg. En op Ellispark het die verdedigende kampioene van die VRK, Munster, die Leeus met 33-13 ore aangesit en die tuisspan se kanse op ‘n uitspeelwedstryd belemmer.
# En ten slotte, volgens die International Organisation of Vine and Wine het wêreldwye wynproduksie verlede jaar met tien-persent gedaal, die grootste daling in 62 jaar. Australië en Italië het die ergste dalings beleef, met onderskeidelik 26-persent en 23-persent. Spanje het ook gely en meer as ‘n vyfde van sy produksie verloor. Ten spyte van ‘n vier-persent styging in Frankryk, het algehele verbruik gedaal, gedryf deur faktore soos inflasie en ‘n verminderde aanvraag uit China. Klimaatsverandering hou steeds ‘n wesenlike bedreiging in en die toekoms van wynproduksie bly dus onseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….