Nuus 08:00
BULLETIN 7 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi gaan voor Khampepe Kommissie van Ondersoek verskyn
# Dereleen James van ActionSA ontken dat sy hoogs geheime Misdaadintelligensie-dokumente ontvang het
# En, Afrika-siektebeheersentrums en die Wêreldgesondheidsorganisasie vra gemeenskapsaksie om Ebola in die DRK te bekamp
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, gaan vandag in Johannesburg voor die Khampepe Kommissie van Ondersoek en Vervolging van misdade uit die apartheid-era verskyn. Sy sal onder meer getuig oor haar rol as minister in die ondersoek en vervolging van misdade uit die tydperk en die toepassing van aanbevelings deur die Waarheid- en Versoeningskommissie. Die departement sê Kubayi se deelname bewys die regering se verbintenis om seker te maak die kommissie het al die nodige inligting om te bepaal of daar pogings was om die ondersoek en vervolging van misdade uit die apartheid-era te dwarsboom.
# Die ActionSA lid van die Parlement, Dereleen James, het aantygings van die Madlanga-kommissie dat sy geheime misdaadintelligensie-dokumente ontvang het, ten sterkste ontken. Die aantyging is deur die staatsadvokaat van die Ondersoekdirektoraad teen Korrupsie, Drushantha Ramsamy, gemaak, wat aanvoer die dokumente is onder James se parlementêre kantoordeur ingeskuif. James het aan die SABC gesê haar enigste interaksie met die direktoraat was nadat sy ‘n verklaring gemaak het om te vra die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat moet beweerde misbruik van Covid-19-fondse binne die Misdaadintelligensie ondersoek:
# Die ANC in die eThekwini-streek veroordeel die moord op sy wyksraadslid in Wyk 17, Sibusiso Khwela, en sê die barbaarse daad beroof die gemeenskap van ‘n goeie staatsamptenaar. Khwela is gister in sy kantoor in Klaarwater, wes van Durban, doodgeskiet. Die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde sal die moord ondersoek. Die ANC se taakspan-koördineerder in die streek, Thanduxolo Sabelo, sê politieke verskille, misdadigheid of enige griewe kan nooit moord regverdig nie:
# Die Africa Centres for Disease Control and Prevention en die Wêreldgesondheidsorganisasie vra dringende verskerping van die gemeenskap-gedrewe Ebola-reaksie in die Demokratiese Republiek die Kongo. Daar is drie-duisend-973 bevestigde gevalle en een-duisend-801 sterftes in die DRK aangemeld. Meer as tweederdes van hierdie sterftes was in gemeenskappe en nie in behandelingsentrums nie. Africa CDC se direkteur-generaal, Jean Kaseya, sê gemeenskappe se bydrae sal die uitbreking bekamp en uiteindelik oorwin:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is in Toronto deur na die Kanadese Ope se ronde van 16 nadat sy met Zhang Shuai van China afgereken het. Amerika se derde gekeurde, Jessica Pegula, het ook deurgedring nadat sy Kamilla Rakhimova van Oesbekistan verslaan het. Die sewende gekeurde Pool, Iga Swiatek, het ʼn gemaklike oorwinning oor Viktorija Golubic van Switserland behaal. In die mansafdeling in Montreal, het die Brit, Cameron Norrie, die derde gekeurde Australiër, Alex de Minaur, geklop om die vierde ronde te bereik. Die Spanjaard Rafael Jodar het die Italianer, Lorenzo Musetti, getroef
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-290-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-259-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….