Nuus 08:00
BULLETIN 30 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Minister in die Presidensie beklemtoon geen genade vir padgebruikers wat roekeloos bestuur nie
# Eskom stel Maandag elektrisiteitsprys-verhogings in werking
# En, rugby: Leinster is net te goed vir die Bulle
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavhveni, sê wetstoepassingsowerhede gaan die Paasnaweek genadeloos teen padgebruikers optree wat roekeloos en nalatig bestuur, en dié wat die spoedgrens oorskry. Menige Suid-Afrikaners reis oral in die land om familie en vriende te besoek en verkeersvolumes neem toe. Ntshavheni doen ‘n beroep op diegene wat reis om versigtig op paaie te wees, verkeersreëls te gehoorsaam en ander padgebruikers te respekteer:
Die GOOD-party het intussen sy meegevoel betuig met die families van diegene wat in die tragiese busongeluk dood is, en wat Donderdag die lewens van 45 passasiers in Limpopo geëis het. Die party sê hy betreur die geweldige lewensverlies op die paaie. Die sekretaris-generaal, Brett Herron, sê padsterftes is voorkombaar en geen familie moes ‘n lid of geliefde in so ‘n skielike en afgryslike ongeluk verloor het nie:
# Eskom sê hy sal vanaf 1 April elektrisiteitsprysverhogings in werking stel, soos goedgekeur deur die Nasionale Energiereguleerder. Die kragvoorsiener het in Oktober verlede jaar by Nersa aansoek gedoen vir die goedkeuring van sy Kleinhandeltarief- en strukturele-aanpassingsaansoek en die Tariefskedule tot Maart 2025. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die gemiddelde verhoging is van toepassing op die sleutelnywerheids- en stedelike tariewe en sal 13,29-persent wees, as gevolg van die verhoging in die bekostigbaarheid-subsidieheffing:
# Die Isrealse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het nuwe onderhandelings oor ‘n skietstilstand in Gaza goedgekeur – ‘n dag na die wêreld se hoogste hof Israel beveel het om toe te sien dat dringende humanitêre hulp die Palestynse gebied bereik. Die jongste beslissing van die Internasionale Geregshof volg na Suid-Afrika die hof versoek het om ‘n bevel te versterk wat in Januarie aan Israel uitgereik is om alle moontlike maatreëls te tref ten einde volksmoord in Gaza te verhoed. Netanyahu se kantoor sê nuwe onderhandelings oor ‘n skietstilstand en die vrylating van gyselaars sal in die komende dae in Doha en Kaïro plaasvind.
# En, rugby: Die Bulle het ‘n klein voorsprong teen rustyd prysgegee met Leinster wat gisteraand teruggeveg het vir ‘n bonuspunt-oorwinning in hulle Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting in Dublin. Leinster is boaan die punteleer en die Bulle tweede. Die Bulle, wat teen rustyd met 14-12 voor was, moes in die tweede helfte vyf drieë afstaan, terwyl die broers Harry en Ross Byrne saam twaalf punte opgestapel het in die wedstryd wat Leinster met 47-14 gewen het. Die Haaie is vanmiddag in Durban die gashere vir die Skotse span Edinburgh, terwyl die Leeus in ‘n wegwedstryd die Ospreys in Wallis pak. Die Stormers speel teen nog ‘n Ierse span, Ulster, in Kaapstad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….