Nuus 07:00
BULLETIN 19 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC se hofsaak het gegaan oor regverdigheid in die verkiesingsproses
# Fanni Masemola keer vandag terug as nasionale polisiekommissaris
# En rugby: Die Cheetahs verloor naelskraaps teen Bayonne
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle saak in die Konstitusionele Hof was nooit oor voorregte vir die regerende party nie, maar om seker te maak geen party of onafhanklike kandidaat word van die stembrief gehou deur ‘n vereiste wat die wet nie voorskryf nie. Hy is terug by die werk nadat hy ineengestort het toe die hof in die ANC se guns uitspraak gelewer het oor 181 raadskandidate vir die plaaslikeregeringsverkiesing. Hy het gister by Luthuli-huis gesê hulle voer nou hul veldtog vir die verkiesing:
# Die EFF-leier Julius Malema het herhaal dat sy party by die regering van nasionale eenheid sal aansluit as die DA en Vryheidsfront Plus nie deel daarvan is nie. Hy het gister in Soweto stemme gewerf. Die ANC-jeugliga het voorgestel dat die DA uit die RNE verwyder en met die EFF vervang word. Malema sê die EFF wil regeringsmag gebruik om die lewens van swart Suid-Afrikaners te verbeter en die programme wat hy ondersteun, in te stel:
# Die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, is vandag terug by die werk nadat president Cyril Ramaphosa sy voorsorgskorsing opgehef het. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag in September strafregtelike aanklagte teen hom teruggetrek het. Masemola is in April geskors vir beweerde versuim om toesig te hou oor ‘n polisie-gesondheidsdienskontrak ter waarde van 360-miljoen-rand, wat aan Medicare24 toegeken is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevind daar was geen redelike vooruitsig op ‘n suksesvolle vervolging nie. Luitenant-generaal Puleng Dimpane het tydens sy skorsing as kommissaris waargeneem.
# Die Afrika Mayibuye-beweging vra dringende hervormings om vroue se toegang tot grond te verbeter. Dit volg nadat parlementêre bevindings getoon het minder as 35-persent vroue wat ondervra is besit grond, vergeleke met meer as die helfte mans. Die beweging vra ‘n nasionale oudit van vroue se toegang tot grond, sterker beskerming van grondbesitregte en groter steun vir boerdery-ondernemings wat deur vroue bestuur word. Die beweging vra ook beleggings in besproeiing, landbou-opleiding en landelike markte om werk te skep en vroue se ekonomiese onafhanklikheid te versterk.
# Kanada se eerste minister, Mark Carney, beskryf die dood van vier weermaglede as “een van die leër se ergste tragedies op tuisgrond in vredestyd”. ʼn Brand het die naweek deur een van die land se grootste en besigste militêre basisse in Wainwright, Alberta, gewoed. Vier mense is dood en tientalle is beseer. Die brand het in die basis se opleidingsarea ontstaan voor dit vinnig versprei het. Carney sê hy het militêre amptenare op die basis gevra om uitvoerig verslag te doen oor wat gebeur het:
# Rugby: Die Cheetahs het ʼn naelskraapse 29-27-nederlaag teen die Franse span, Bayonne, gely in hulle openingsrondte van die Europese Professionele Klubrugby-uitdaagbeker op die Stade Jean-Dauger. Die gashere het teen rustyd met 22-13 voorgeloop, maar ná ʼn sterk terugvegpoging het die Bloemfonteinse span met net twee punte verloor. Die Cheetahs was nie klinies genoeg om te wen nie, maar het nie ʼn bonuspunt teen hulle verdien nie. Die Cheetahs takel op 13 Desember die Dragons op hul aangenome tuisveld, St Helen’s in Swansea, Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-175-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 109-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….