Nuus 08:00
BULLETIN 24 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa doen ‘n oproep om ‘n behoorlike ondersoek na Mapisa-Nqakula-korrupsiebewerings
# President Putin beloof geregtigheid na die Moskou-konsertslagting en verklaar ‘n nasionale dag van rou in Rusland
# En, rugby: Vier SA-spanne maak skoonskip in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die relevante instellings moet toegelaat word om korrupsiebeskuldigings teen die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, te ondersoek. Dit volg op ‘n klopjag by haar Johannesburgse woning verlede week, na bewerings dat sy 2,3-miljoen-rand se omkoopgeld ontvang het toe sy die minister van Verdediging was. Ramaphosa het tydens die ANC se verkiesingsveldtog in die Oos-Kaap benadruk die oppergesag van die reg moet gehandhaaf word:
# Die president van ActionSA Herman Mashaba moedig burgers aan om die party se eerste verkiesingmanifes te steun. Hy plaas klem op die geskiedkundige belangrikheid daarvan met die aanspreek van Suid-Afrika se uitdagings, wat hoop bied vir ontnugterde Suid-Afrikaners. Mashaba het in die Ellispark-arena in Johannesburg gesê hulle nege aksieplanne hanteer dwingende kwessies soos werkskepping, gemeenskapsveiligheid, onderwys en gesondheidsorg. Hy sê ActionSA is ‘n goeie alternatief omdat aksie nodig is om Suid-Afrika reg te ruk:
ActionSA het ook planne uiteengesit om die energiekrisis aan te spreek, en bepleit ‘n mededingende en gedesentraliseerde energiemark. Die party beoog ’n wetlike raamwerk vir private maatskappye om klein, plaaslike energienetwerke met hernubare bronne te bou. Mashaba stel voor onafhanklike kragprodusente en privaatsektor-entiteite moet by Eskom aansluit vir elektrisiteitsopwekking om kragvoorsiening ’n hupstoot te gee:
# Die Russiese president Vladimir Putin het belowe om diegene te straf wat verantwoordelik is vir die dodelike Crocus-aanval Vrydag in Moskou, wat die lewens van minstens 133 mense geëis het. Vier mans is aangekeer terwyl hulle na Oekraïne probeer vlug het. Die aanvallers, met bande met die Islamitiese Staat, het die konsertgebou bestorm, op die skare losgebrand, en die gebou aan die brand gesteek. Putin het die terreurdaad veroordeel en vandag tot ‘n nasionale dag van rou verklaar. Hy sê elf mense word aangehou, insluitend die vier gewapende mans.
# En, rugby: Die span in die tweede plek, die Bulle, het die Dragons met 31-10 geklop in ‘n Verenigde Rugby Kampioenskap-botsing in Newport, Wallis, met ‘n bonuspunt-drie op die nippertjie. In Galway, Ierland het die Leeus ses drieë gedruk en met 38-14 teen Connaught gewen. Vroeër gister het drie drieë deur Suleiman Hartzenberg en twee deur Leolin Zas die Stormers in Kaapstad ‘n oorwinning van 43-21 oor Edinburgh, en vyf kampioenskapspunte, besorg. En in Durban het die Haaie uiteindelik weer sukses behaal met ‘n 22-12-wentelling teen Ulster.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….