Nuus 13:00
BULLETIN 8 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa is die voorsitter van ‘n nuwe kommissie oor staatsbeheerde ondernemings
# ‘n Aardbewing van 5.7 ruk die Filippynse eiland Mindanao
# En sokker: Spanje se held van 2010 se Wêreldbekertoernooi tree uit
# Die regering beplan om ‘n nuwe kommissie onder voorsitterskap van president Cyril Ramaphosa te stig om staatsbeheerde ondernemings te bestuur. Die minister in die Presidensie, Gwen Ramokgopa, sê die kommissie sal die nasionale strategie vir staatsondernemings hersien, bestuur en toesig hou oor herstrukturering om doeltreffendheid te verbeter. Dit volg nadat die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering wetgewing teruggetrek het wat voorsiening gemaak het vir ‘n staatsbeheerde houermaatskappy. Die regering sê die kommissie kan vinnig tot stand gebring word. Die hervormings sluit riglyne in oor aanstellings, vergoeding en herstrukturering.
# Die voorsitter van die tussenministeriële komitee, Mmamoloko Kubayi, sê die regering respekteer die Konstitusionele Hof se uitspraak oor asielaansoeke, maar is bekommerd oor onbedoelde gevolge. Sy het die media toegespreek ná die komitee se vergadering. Kubayi sê die uitspraak wettig nie onwettige migrasie nie en verleen ook nie outomaties vlugtelingstatus of permanente verblyfreg nie. Asielsoekers moet wel toegang hê tot die formele aansoek-beoordelingsproses. Kubayi sê bedrieglike of ongegronde eise kan steeds verwerp word:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê dis tyd dat plaasaanvalle en -moorde die politieke en sekerheids-voorkeur kry wat die omvang en volgehoue aard daarvan regverdig. Dit volg na die onlangse moord op die 55-jarige Hannetjie van Zyl op haar plaas, Doornpan, in Noordwes. Bennie van Zyl van TLU SA sê 26 plaasaanvalle en drie plaasmoorde is in Augustus aangemeld, gevolg deur 17 aanvalle verlede maand:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Aardbewing met ‘n meting van 5,7 het die suidelike Filippyinse eiland Mindanao getref. Die Duitse Navorsingsentrum vir Geowetenskap sê dit het op ‘n lae diepte van tien kilometer voorgekom. Die Filippyne se seismologie-agentskap, Phivolcs, sê beduidende skade word nie verwag nie, maar na-skokke is moontlik. Die owerhede monitor die situasie vir verdere seismiese bedrywighede.
# Sokker: Die Spaanse voorspeler Pedro Rodrigues het op die ouderdom van 39 sy uittrede aangekondig ná ‘n loopbaan van 20 jaar en 25 groot trofees, insluitend die Wêreldbeker in 2010. Hy was 16 jaar gelede ‘n sleutellid van die land se span in Suid-Afrika en het in die eindstryd teen Nederland begin. Rodrigues het sy land ook gehelp om die Euro 2012-toernooi te wen. Volgens Reuters het hy sy droom uitgeleef en is trots op al die mense wat hom ondersteun het om dit te verwesenlik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-998-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-124-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….