Nuus 08:00
BULLETIN 29 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee dien hofdokumente in oor die aanstelling van die getuienisleier
# Die man wat met die moord op sy vervreemde vrou verbind is, is dood in Midrand aangetref
# En Soedan se minister van Buitelandse Sake veroordeel buitelandse inmenging in sy land
# Die Parlement se Ampsklagkomitee het sy beëdigde verklaring ingedien teen die regsuitdaging van die EFF en African Legal Professionals Association, oor die komitee se besluit om sy aanbeveling van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier te herroep. Die EFF en African Legal Professionals Association het verlede maand afsonderlike aansoeke by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om die komitee se besluit uit te daag, en voer aan daar is geen regsbasis daarvoor nie. Die komiteevoorsitter, Makashule Gana, sê die regsuitdaging is voortydig:
# Business Leadership South Africa sê die regering moet sy ekonomiese hervormings en beleidsverbintenisse op koers hou. Die organisasie ondersteun Eskom se plan om voor te berei vir ‘n meer mededingende elektrisiteitsmark, met meer privaat ondernemings wat krag verskaf. Dit wil ook vordering hê met die skeiding van die nutsmaatskappy se transmissiebesigheid en die vermindering van die skuld van 120-miljard-rand wat deur munisipaliteite verskuldig is. In haar weeklikse nuusbrief het die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, ‘n duidelike begindatum vir die vertraagde groothandel-elektrisiteitsmark gevra en die Tesourie aangespoor om finansiële dissipline te handhaaf.
# Die polisie in Gauteng sê ‘n man wat verdink word van die moord op ‘n 23-jarige vrou gisteroggend in Tembisa, is dood aangetref in sy voertuig in Midrand. Boitumelo Gift Mashita is tydens ‘n beweerde rooftog doodgeskiet, terwyl sy op pad werk toe was. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê die man is Mashita se vervreemde eggenoot. Die ondersoek het hom met haar moord verbind, waarna ‘n opsporingspan na hom begin soek het:
# Soedan se minister van Buitelandse Sake, Mohieldin Salim Ahmed Ibrahim, veroordeel buitelandse inmenging in die land en sê dit verdiep die dekade lange konflik. Soedan is sedert April 2023 in ‘n oorlog tussen die weermag en die Rapid Support Forces gewikkel. Dit het al gelei tot die dood van tien duisende mense en een van die wêreld se ergste ontheemding-krisisse laat ontstaan. Ibrahim het aan die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gesê die Soedannese moet hul eie toekoms bepaal en terselfdertyd oop wees vir enige opregte en opbouende poging om die oorlog te beëindig.
# Motorsport: Die heersende Formule Een-wêreldkampioen, Lando Norris, het Franco Colapinto verskoning gevra vir opmerkings wat hy ná die Azerbeidjan Grand Prix gemaak het. Colapinto het Saterdag ʼn ongeluk veroorsaak by die Baku Stad-baan waarna sy Alpine-spanmaat, Pierre Gasly, en Norris van McLaren se wedren beëindig is. Norris het ná die voorval gesê “sommige bestuurders hoort nie in F1 nie” en dat Colapinto vir een wedren geskors moet word. Norris erken sy opmerkings was verkeerd. Colapinto word by die naweek se Bahrein Grand Prix met vyf wegspringplekke gestraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-113-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-137-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….