Nuus 08:00
BULLETIN 27 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Naledi Pandor sê Suid-Afrika bly verbind tot die bevordering van internasionale vrede en veiligheid
# Sy sê verder die huidige globale uitdagings vereis ‘n billike multilaterale stelsel
# En, adjunkpresident Paul Mashatile woon die nasionale konferensie oor die geïntegreerde strafregstelselprogram by
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê Suid-Afrika bly verbind tot die bevordering van internasionale vrede en veiligheid deur inklusiewe dialoog en die vreedsame politieke skikking van geskille. Die minister het die 55ste sitting van die Verenigde Nasies se Menseregteraad in Genève toegespreek. Pandor sê die gebrek aan respek vir lewe en lewensomstandighede wat sedert sewe Oktober in Gaza waargeneem word, is kommerwekkend:
Die minister sê intussen dis reg dat Hamas gewys word op sy misdade teen onskuldiges, maar die wêreld moet ook sy gebrek aan optrede tydens 70 jaar se besetting in ag neem. Pandor sê huidige globale probleme vereis die bevordering van ‘n billike multilaterale stelsel en voeg by verdraagsaamheid is ʼn voorvereiste vir vrede:
# Adjunkpresident Paul Mashatile is die hoofspreker op die nasionale konferensie oor die geïntegreerde strafregstelselprogram in Boksburg, Gauteng. Die drie-daagse konferensie met die tema, Die versterking van die strafregstelsel om ons mense veilig te hou, wil die vordering meet met inwerkingstelling van die sewepuntplan oor strafreg-misdaadvoorkoming- en -sekerheid. Gesprekke tydens die konferensie sal handel oor die modernisering van die strafregstelsel en hersiening van die Strafproseswet van 1977.
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders het aan die Appèlhof in Bloemfontein gesê hy het binne die reg opgetree toe twee onderwysers aan gewone aanranding skuldig bevind is nadat hulle lyfstraf toegedien het. Die onderwysers van Gauteng en Limpopo is met 15-duisend-rand elk beboet waarvan vyf-duisend-rand opgeskort is. Hulle name is ook van die onderwysrol geskrap en vir tien jaar opgeskort. Section 27 het namens die Sentrum vir Kinderreg aangevoer die straf is te lig en die saak moet weer verhoor word.
# Sokker: Everton se 10 punte wat afgetrek is omdat hy die Premierliga se winsgewendheid- en volhoubaarheidsreëls oortree het, is ná hulle appèl tot ses verminder. Die Engelse klub is in November verlede jaar gestraf nadat bevind is hulle het toegelate verliese oorskry met die assessering van die tydperk tot en met die 2021-2022-seisoen. Na die verlaging het Everton van die 17de tot 15de plek op die Premierliga-punteleer opgeskuif. Die klub kan egter nog punte verloor nadat hy verlede maand saam met Nottingham Forest aangekla is van beweerde oortredings met hulle rekeninge vir 2022/2023.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-94-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-769-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….