Nuus 07:00
BULLETIN 17 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola verbind groepe wat voorgee om Afrikanerbelange te beskerm, met die VSA se visumbeperkings
# ‘n Ontvoerde voormalige SABC-sportaanbieder is dood aangetref
# En rugby: Die Haaie kondig ‘n groep van 67 spelers aan vir die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die eensydige visumbeperkings wat Amerika aangekondig het, stem ooreen met drukgroepe wat minderhede en Afrikaners verteenwoordig se voorstelling van Suid-Afrika se binnelandse beleid. Die beperkings is gemik op mense wat volgens Amerika rassediskriminasie bevorder, geweld teen Afrikaners en ander minderheidsgroepe aanhits, en grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak. Lamola se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrika sal voortgaan om dialoog met die Amerikaanse regering na te streef:
# Die vakverbond COSATU sê hy het sy 15de nasionale kongres twee dae vroeër verdaag om die eenheid, integriteit en krag van die vakverbond te beskerm. Die kongres het in chaos verval nadat geaffilieerde vakbonde geweier het om geloofsbriewe in te dien nadat COSATU se eerste president, Mike Shengange, deur sy vakbond, NEHAWU, geskors is. COSATU-president Zingiswa Losi sê hulle kan nie sê dit wat by die kongres gebeur het, is deur politieke invloed veroorsaak nie:
# SaveAct sê hy bemagtig vroue en jongmense in plattelandse gemeenskappe deur middel van spaargroepe wat toegang bied tot bekostigbare finansiering, asook opleiding in finansiële geletterdheid en ondernemingsontwikkeling. Die organisasie het sedert 2005 meer as 115-duisend mense deur ongeveer vyf-duisend-sewe-honderd spaargroepe bereik. Belinda Glenn van SaveAct sê die organisasie is werksaam in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, die Vrystaat en Gauteng, met die doelwit om teen 2035 twee-miljoen mense te bereik:
# Die voormalige SABC-sportaanbieder en musiekregte-aktivis, Owen Ndlovu, is gister in Thokoza, Ekurhuleni, dood aangetref nadat hy in Katlehong ontvoer is. Volgens die polisie het drie onbekende, gewapende mans Ndlovu gekaap en ontvoer toe hy Dinsdagaand sy vrou by die kerk gaan haal het. Sy vrou het die aanval oorleef en die gekaapte bakkie is later verlate in Walkerville gevind. Ndlovu se liggaam is langs ‘n pad in Thokoza aangetref, en het volgens berigte skietwonde gehad. Die polisie soek na die drie verdagtes.
# Katar se ministerie van Buitelandse Sake veroordeel die Houthi-hommeltuigaanval op Mekka, Islam se heiligste stad, en beskryf dit as ʼn skaamtelose daad van aggressie. Saoedi-Arabië het die Houthi-hommeltuig Dinsdag afgeskiet. Dis die eerste keer in byna ʼn dekade dat die Iran-gesteunde rebellegroep van Jemen Mekka teiken. Die ministerie sê die gewydheid en veiligheid van heilige plekke en veiligheid van dié wat dit besoek, moenie in tye van konflik geteiken, bedreig of misbruik word nie. Hy sê Katar ondersteun Saoedi-Arabië se maatreëls om sy veiligheid en gebied te beskerm.
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, het ‘n groep van 67 spelers vir die 2026/27-seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap aangekondig, voor die eerste wedstryde volgende naweek. Die groep van 67 bestaan uit 31 agterspelers en 36 voorspelers en skep ‘n balans tussen jeug en ervaring. Onder die spelers wat ingesluit is, tel die Springbokke Thomas du Toit, Andre Esterhuizen, Eben Etzebeth, Ethan Hooker, Ox Nche en Edwill van der Merwe, saam met ‘n groep opkomende spelers wat reeds in die Wêreld Rugby-juniorkampioenskap en die Curriebeker gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-332-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-305-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….