Nuus 08:00
BULLETIN 7 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê Koning Misuzulu is na die SAOG-beraad genooi
# Amazon Air ry van die aanloopbaan af en vyf mense sterf in Miami
# En rugby: Dit is die Griekwas teen die Pumas in die Curriebeker-eindstryd
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die Zulu-koning, Misuzulu kaZwelithini, is amptelik uitgenooi om verlede maand se beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban by te woon. Dit volg ná die koning se bewering dat hy van die geleentheid uitgesluit is. Hy beskuldig die regering van disrespek omdat so ‘n hoëprofielgeleentheid in sy provinsie gehou word sonder om hom te betrek. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê koning Misuzulu sou na verwagting die amptelike banket en openingseremonie bywoon:
# Die DA sê die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie se jongste aanval op die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, is ‘n duidelike poging om onreëlmatighede te verdoesel. SADOU het president Cyril Ramaphosa versoek om Gwarube te straf ná haar besluit om die opskorting van die nuwe Grondslagfase-handboekkatalogus te handhaaf. Die vakbond sê ten spyte van ondersoeke is geen bewyse van verkrygingsoortredings gevind het nie. Die DA sê die minister het haar werk gedoen deur die proses te stop, regsduidelikheid te kry en provinsies te verhoed om handboeke onwettig aan te skaf.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê die regering kan nie die infrastruktuur-agterstand uitwis en terselfdertyd skaars staatshulpbronne gebruik om klaskamers, toilette, laboratoriums, heinings en ander bates wat doelbewus gesteel of verwoes word, te vervang nie. Druk op die provinsie se infrastruktuur neem toe weens ʼn groeiende bevolking, migrasie, behuisingsontwikkeling, verstedeliking en veranderende nedersettingspatrone. Maile sê elke rand en sent wat gebruik word om infrastruktuur wat doelbewus vernietig is te vervang, kon nog ʼn klaskamer bou, nog ʼn skool in stand hou of onderwysgeleenthede elders uitbrei:
# Vyf mense is dood nadat ʼn Amazon-vragvliegtuig van die aanloopbaan gery en aan die brand geslaan het toe dit op die Miami Internasionale Lughawe probeer land het. Vyf ander is beseer waarvan drie in ʼn bedenklike toestand is. Die Amazon Air-vragvliegtuig is een van meer as 250 vragvliegtuie wat die e-handelreus daagliks gebruik om klante se pakkies te vervoer. Die hoof van Miami-Dade-brandweerdiens, Raied Jadallah, sê die nasionale vervoer-veiligheidsraad het ʼn span aangewys om die voorval te ondersoek:
# Rugby: Die verdedigende kampioene, Griekwas, speel Saterdag gasheer vir die Pumas in die Curriebeker-eindstryd in Kimberley in die Noord-Kaap. In die eerste van gister se twee uitspeelwedstryde het die Griekwas die Leeus in Kimberley met sewe drieë en ʼn telling van 52-12 verpletter. Dis gevolg deur ʼn titaniese stryd in Bloemfontein waar die Pumas ʼn naelskraapse 27-24-sege oor die Cheetahs behaal het. Die eindstryd is ʼn herhaling van die 2022-skouspel toe die Pumas met 26-19 gewen het en die beker vir die eerste en enigste keer in hulle geskiedenis omhoog gehou het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-749-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-406-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………