Nuus 08:00
BULLETIN 6 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA stel meer as 800 plaaslikeverkiesingskandidate bekend
# El Niño hou ‘n gevaar vir kleinskaalse boere in
# En rugby: Die Springbokke seëvier oor die All Blacks in derde toets
# Build One South Africa stel meer as 800 kandidate in die komende plaaslikeregeringsverkiesing. Tydens die onthulling van BOSA se plaaslikeregeringsverkiesingsbloudruk in Johannesburg het die partyleier, Mmusi Maimane, gesê effektiewe regering vereis leiers wat fokus op die bou van infrastruktuur, die versterking van instellings en die bevordering van ekonomiese groei, eerder as om aanspreeklikheid te vermy. Die munisipale plan belowe betroubare dienste, sterker plaaslike ekonomieë en veiliger gemeenskappe, ‘n skoon, korrupsievrye regering en verantwoordbare leierskap:
Die president van die Afrika Mayibuye-beweging, Floyd Shivambu, sê intussen die party sal kandidate in meer as vierduisend wyke oor al nege provinsies in die plaaslikeverkiesing op 4 November stel. Shivambu het ondersteuners toegespreek tydens die bekendstelling van die beweging se Gautengse burgemeesterskandidate en gesê Mayibuye is trots op sy vordering sedert sy stigting. Hy het die party se mandaat van totale vryheid en gelykstelling herbevestig terwyl hulle nou munisipaliteite regoor Suid-Afrika wil wen:
# African Rainbow Minerals sê sy belegging in Surge Copper ondersteun die voortgesette ontwikkeling van die Berg-koper- en molibdeenprojek. ‘n Voltooide voor-uitvoerbaarheidstudie bevestig ‘n grootskaalse operasie met ‘n eerste mineraalreserwe wat ‘n mynleeftyd van 28 jaar ondersteun. ‘n Uitvoerbaarheidstudie word vir 2028 beplan, met ‘n finale beleggingsbesluit wat in 2031 geneem sal word. Die stigter van ARM, Patrice Motsepe, het die groep se verbintenis tot goeie bestuur en volhoubare groei herbevestig tydens die bekendmaking van sy finansiële jaarresultate:
# Die Nasionale Mynwerkersvakbond het solidariteit met die mense van Nepal uitgespreek ná verwoestende kitsvloede langs die Nepal-China-grens. Meer as een-duisend-twee-honderd mense is dood, terwyl ongeveer vier-duisend steeds vermis word met soek- en reddingsoperasies wat voortduur. Die vakbond se hoofsekretaris, Mpho Phakedi, het die internasionale gemeenskap en die Suid-Afrikaanse regering versoek om dringend humanitêre hulp te verleen. Hy sê duisende gesinne is dakloos, met baie wat sonder skuiling, kos en medisyne gelaat is.
# Kleinboere word gewaarsku teen warmer toestande en onvoorspelbare reënval gedurende die 2026/27 somerseisoen. Die Nasionale Departement van Landbou se jongste El Niño-advies voorspel ondernormale reënval en hoë temperature, wat risiko’s vir gewasse en vee verhoog. Landboukundiges sê baie kleinboere verstaan die risiko’s, maar het ‘n gebrek aan water, infrastruktuur en finansiering om voor te berei. Hulle beveel wateropgaring, kompos en die aanplant van droogtebestande gewasse aan. Daarbenewens waarsku hulle dat verminderde produksie boere se inkomste, voedselbeskikbaarheid en pryse kan beïnvloed, en vra vir volgehoue belegging in klimaatsaanpassing.
# En rugby: Die Springbokke het gisteraand ‘n 2-1 voorsprong in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks geneem toe hulle die All Blacks met 29-24 in ‘n volgepakte FNB-stadion geklop het. Met die rustydtelling op 12-elk het die All Blacks in die 57ste minuut die voortou met 17-12 geneem. Maar ‘n drie deur Jesse Kriel het die wedstryd terug in die Bokke se guns geswaai, en ‘n kragtige dryfbeweging het gelei tot ‘n drie deur Malcolm Marx om die tuisspan terug in die wedstryd te plaas. Die vierde en laaste toets word volgende Saterdag in Baltimore, VSA, beslis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….