Nuus 07:00 (DGO)
BULLETIN 17 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Alles is gereed vir die Madlanga-kommissie van ondersoek wat vandag begin
# Die Parlement is bekommerd oor die onnatuurlike sterftes van gevangenes in aanhouding
# En Cosatu kritiseer die sluiting van die Wes-Kaapse taxiroetes
# Die langverwagte Madlanga-kommissie begin vandag by die Brigitte Mabandla-justisiekollege in Pretoria. President Cyril Ramaphosa het die kommissie aangestel ná bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy maak bewerings oor samespanning en korrupsie in die strafregstelsel. Hy beweer die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het bande met ‘n misdaadsindikaat. Mkhwanazi sal die kommissie se eerste getuie wees. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê hulle neem kennis van die MK-party se uitdaging van sy wetlikheid in die Hooggeregshof. Hy sê hulle respekteer die beslissings deur howe.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge verwerp adjunkpresident Paul Mashatile se bewering dat Swart Ekonomiese Bemagtiging ‘n groot sukses is. Die organisasie sê bewyse toon Swart Ekonomiese Bemagtiging het werkloosheid vererger, ongelykheid verdiep, beleggings ontmoedig en hoofsaaklik ‘n klein elite-groep bevoordeel. Hermann Pretorius van die instituut sê meer as 80-persent van Suid-Afrikaners ondersteun meriete-gebaseerde aanstellings en billike verkryging, in plaas van ras-gebaseerde beleide. Pretorius doen ‘n beroep op ‘n nuwe nie-rassige beleid wat fokus op werk, vaardighede en werklike groei.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste is bekommerd oor onnatuurlike sterftes onder gevangenes ná ʼn verslag van die Regterlike Inspektoraat vir Korrektiewe Dienste oor sy prestasie in 2025/2026 se eerste kwartaal. Die inspektoraat se klagtekantoor het 177 klagtes ontvang. Dit sluit 46 gevalle in waar gevangenes mekaar aangerand het, 29 klagtes oor beamptes wat gevangenes aangerand het en 21 wat met selfdoodpogings verband hou. Volgens die verslag was daar 24 onnatuurlike sterftes en 120 natuurlike sterftes. Die komitee eis ʼn volledige verslag van die Departement van Korrektiewe Dienste.
# COSATU in die Wes-Kaap is uiters bekommerd oor die LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, se besluit om verskeie minibus-taxiroetes vanaf vandag vir 30 dae te sluit. Die betrokke roetes sluit in Mfuleni, Khayelitsha, Nomzamo, Lwandle en Somerset-Wes. COSATU se woordvoerder Zanele Sabela sê die stap, wat sonder behoorlike raadpleging gedoen is, sal werkers, studente en pendelaars wat van taxi’s afhanklik is ernstig beïnvloed.
# Die Verenigde Nasies se onafhanklike internasionale ondersoekkommissie oor die besette Palestynse gebied het bevind Israel se optrede in Gaza kom neer op volksmoord. In ʼn nuwe verslag word Israel onder meer beskuldig dat hy burgerlikes teiken wat hy volgens wet moet beskerm, en onmenslike toestande skep wat Palestyne se dood veroorsaak. Israel verwerp die verslag as anti-Semitiese leuens wat deur Hamas geïnspireer is. Die ondersoekkommissie se voorsitter, Navi Pillay, sê volksmoord in Gaza is ʼn morele wandaad.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, is Span Europa se groot trekpleister op die jaarlikse Laverbekertoernooi wat hierdie naweek in San Francisco plaasvind. Die ander spanlede is Alexander Zverev van Duitsland, Holger Rune van Denemarke, Casper Ruud van Swede, die Tsjeggiese speler Jakub Mensik en die Italianer Flavio Cobolli. Die Fransman Yannick Noah is die nie-spelende kaptein. Die Amerikaner Andre Agassi is kaptein van Span Wêreld, bestaande uit die Amerikaners Taylor Fritz, Frances Tiafoe, Reilly Opelka en Alex Michelsen, die Argentyn Francisco Cerundolo en die Brasiliaan Joao Fonseca.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-736-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-687-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….