Nuus 07:00
BULLETIN 13 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Geordin Hill-Lewis sê dis vir hom uiters belangrik om wet en orde terug te bring na Suid-Afrika
# Die Grensbestuursowerheid gaan gebuk onder kapasiteitsuitdagings
# En Kgalema Motlanthe waarsku die ANC in KwaZulu-Natal besig is om uit te sterf
# Die nuwe DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê sy nasionale beleidsvoorkeur is om wet en orde na Suid-Afrika te bring. Die 39-jarige burgemeester van Kaapstad, het meer as 90-persent van die stemme gekry om die party se koukusleier in die Sedibeng-munisipaliteit, Sibusiso Dyonase, by die verkiesingskongres in Midrand te klop. Hill-Lewis sê wanneer wet en orde ineenstort, kan geen ekonomie groei, geen gemeenskap gedy en geen demokrasie floreer nie:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato het tydens ‘n media-inligtingsessie gesê kapasiteitsbeperkings bly ‘n groot uitdaging in die beveiliging van Suid-Afrika se grense. Hy noem tekorte aan personeel, voertuie, IKT-stelsels en hommeltuie, en merk op dat slegs vyf hommeltuie tans operasioneel is. Masiapato sê vennootskappe met privaatsektormaatskappye het bedrywighede tydelik versterk, wat die onderskepping van onwettige oorgrensbeweging moontlik gemaak het. Hy beklemtoon die behoefte aan permanente hulpbronne en sê verbeterde toerusting soos hommeltuie en amfibiese voertuie is doeltreffend en sal grensveiligheid verbeter sodra voldoende befondsing bekom is.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê die provinsie se onderwysstelsel gaan gebuk onder voortgesette uitdagings soos oorvol klaskamers, agterstande met infrastruktuur, swak leeruitkomste en ‘n tekort aan onderwysers. Dit volg nadat leerder-inskrywings vanjaar tot meer as 2,8-miljoen verdubbel het. Maile sê gehalte en beskikbaarheid van onderwysers bly reg oor die provinsie ongelyk, veral in belangrike vakke. Hy sê die provinsie het ʼn tekort aan gekwalifiseerde onderwysers in wiskunde, wetenskap en tegnologie, met ʼn geraamde tekort aan 370 onderwysers in tegniese vakke:
# Die voormalige president, Kgalema Motlanthe waarsku die ANC in KwaZulu-Natal is effektief besig is om te sterf, wat kommer wek oor ‘n breër organisatoriese krisis. Motlanthe het diepgaande gebrekkige funksionering en die verval van strukture binne die provinsie aangehaal as gevolg van interne onbestendigheid. Provinsiale steun in KZN het met 55,4-persent in 2019 en 17,6-persent in 2024 gedaal. Die waarskuwing kom terwyl die party toenemende druk ervaar voor die komende munisipale verkiesings, met vrae wat toeneem oor sy vermoë om te herbou en mededingend te bly.
# Die Iranse president, Masoud Pezeshkian, sê volgens hom was Amerika se dubbele standaarde en totalitarisme die grootste struikelblokke wat gekeer het dat ʼn ooreenkoms die naweek bereik word. In Islamabad, Pakistan, het belangrike onderhandelinge tussen Amerika en Iran misluk weens verskille oor ingewikkelde kwessies soos Teheran se weiering om sy kernprogram en beheer oor die strategiese Straat van Hormoes te laat vaar. Pezeshkian sê hulle was gereed om ʼn gebalanseerde en regverdige ooreenkoms te bereik. Hy voeg by indien Amerika by internasionale regsraamwerke hou, is ʼn ooreenkoms binne bereik.
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, geklop en sy eerste Monte-Carlo Meesters-titel gebuit. Hy is nou weer die wêreld se nommer een. Hy het die Spanjaard verslaan en sy derde Meesters 1000-titel opgeraap nadat hy ook by Indian Wells en Miami geseëvier het. Hy het sy wenlopie in die Meesters-reeks tot 22 wedstryde uitgebrei. Sinner, wat die eerste plek by Alcaraz afgeneem het, sê dit beteken vir hom baie om die titel te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-114-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-715-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….