Nuus 07:00
BULLETIN 5 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê die onderhoudsproses vir die nuwe nasionale direkteur van Openbare Vervolging was deursigtig
# KwaZulu-Natal teken ’n geskiedkundige daling in padsterftes tydens die feestyd aan
# En sokker: Suid-Afrika is uitgeskakel uit die Afrikabekertoernooi
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, beskryf die onderhoudsproses vir die volgende nasionale direkteur van Openbare Vervolging as deursigtig. Die regsfirma, B Xulu and Partners Incorporated, het verlede maand ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om ʼn interdik te kry teen president Cyril Ramaphosa se aanstelling van die nuwe nasionale direkteur. Die firma beskuldig die onderhoudspaneel dat hy die gewese hoof van die Ondersoekdirektoraat, Hermione Cronje, onregmatig bevoordeel. Kubayi het aan die SABC gesê alle besware word regverdig oorweeg:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Mike Masiapato, spoor reisigers aan om alle vereiste dokumente saam te dra en beklemtoon wetteloosheid sal nie geduld word nie. Masiapato het by die Beitbrug-grenspos in Limpopo in ‘n onderhoud erken daar is infrastruktuur- en hulpbronuitdagings, maar sê bedrywighede by alle grensposte is onder beheer. Hy het beklemtoon dat bykomende spitstye oor die volgende twee naweke verwag word, met owerhede wat gereed is om die hoë volume reisigers te hanteer:
# KwaZulu-Natal het ‘n geskiedkundige afname in padsterftes en -ongelukke tydens die feestyd aangeteken. Die LUR vir Vervoer, Siboniso Duma, sê sedert die begin van die seisoen tot Vrydag verlede week het ongelukke met agt-persent gedaal, terwyl sterftes met 13-persent afgeneem het in vergelyking met verlede jaar. Duma skryf die verbetering toe aan verskerpte wetstoepassing onder die Nenzani La Ezweni-operasie, insluitend duisende arrestasies vir dronkbestuur en verkeersoortredings regoor die provinsie.
# Die Venezolaanse minister van Verdediging, Vladimir Padrino López, eis die onmiddellike terugkeer van president Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores. Dit volg nadat hulle Saterdag tydens Amerikaanse aanvalle gevange geneem is. Die waarnemende president, Delcy Rodríguez, het Maduro se posisie met alle regs- en politieke instellings se goedkeuring oorgeneem. López sê dis ʼn aksie van aggressie teen die land se wettige president, die presidentsvrou en Venezuela se soewereiniteit.
# Sokker: Suid-Afrika is by die Afrikabekertoernooi se rondte van 16 in Rabat in Marokko uitgeskakel na ʼn 2-1-nederlaag teen die vyfmalige kampioene van Kameroen. Doele deur Junior Tchamadeu en Christian Kofane het Kameroen se plek in die kwarteindronde verseker. Evidence Makgopa het Bafana Bafana se enigste doel van die wedstryd in die 87ste minuut aangeteken. Afrigter Hugo Broos sê hy is teleurgesteld met die uitslag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-146-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….