Nuus 07:00
BULLETIN 3 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika is nie genooi na die eerste G20 Sherpas-vergadering van die Amerikaanse Presidensie nie
# Die Parlement is bekommerd oor dreigemente en intimidasie teen LP’s
# En rugby: Die loting vir die 2027 Wêreldbeker vind vanoggend in Sydney plaas
# Amerika het Suid-Afrika nie uitgenooi na die eerste ontmoeting van G20-Sherpas wat later die maand in Washington plaasvind nie. Dit volg nadat president Donald Trump gedreig het om Suid-Afrika se lidmaatskap van die G20 op te hef. Hy voer aan daar word volksmoord teen Afrikaners gepleeg en die regering laat toe dat hul plase afgeneem word. Die regering verwerp die berigte en sê daar is geen betroubare bewyse daarvoor nie. Amerika het die G20-presidentskap Maandag by Suid-Afrika oorgeneem.
# Die Parlement het kommer uitgespreek oor toenemende dreigemente en intimidasie teen parlementslede. Die jongste klagtes het tydens die werk van die ad hoc-komitee voorgekom, maar soortgelyke voorvalle is deur lede van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge en ander komitees aangemeld. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hulle vertrou dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens hierdie voorvalle spoedig sal ondersoek en hanteer:
# Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, het beloof dat alle korrupte aktiwiteite op alle regeringsvlakke gekonfronteer, ontbloot en uitgewis sal word. Hy het gister tydens ‘n mediakonferensie belangrike hervormingsplanne aangekondig om integriteit, aanspreeklikheid en etiese bestuur in die staatsdiens te versterk. Dis in aanloop tot Internasionale Teenkorrupsiedag op 9 Desember. Buthelezi sê korrupsie bedreig ekonomiese mededingendheid, veroorsaak maatskaplike ontwrigting en is ʼn regstreekse aanval op landsburgers se ontwikkelings-ambisies:
# Die DA sê hy is reg bewys na die stortingsterreinkontrak van 81-miljoen-rand in Matlosana in Noordwes weens wanprestasie beëindig is. Die kontrak, wat aan 20 Elevation Construction toegeken is, het verskeie rooi ligte laat flikker, insluitend ‘n gebrek aan toerusting, belastingprobleme en dat dit onder sakeredding was. Johannes le Grange van die DA doen ‘n beroep op ‘n volledige ondersoek en aanspreeklikheid vir misbruikte openbare fondse:
# Ierland se eerste minister, Micheál Martin, sê een van die belangrikste waarborge vir Oekraïne se toekomstige veiligheid is sy lidmaatskap van die Europese Unie. Kiëf wil teen 2030 by die EU aansluit. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het Dublin gister besoek tydens sy eerste amptelike besoek aan Ierland. Martin sê sy land dra verder by vir nie-dodelike militêre hulp aan Kiëf. Hy sê hulle maak die bydrae om seker te maak president Vladimir Putin van Rusland wen nie:
# Rugby: Die loting vir 2027 se Wêreldbeker in Australië vind vandag in Sydney plaas. Die eerste-gekeurde Springbokspan en 23 ander lande sal van een tot 24 gekeur word op grond van hul wêreldranglys, en sal deur middel van ‘n trekking in vier groepe van ses spanne ingedeel word. Elke groep sal een span van elk van die vier groepe hê. ‘n Sterbelaaide lys van aanbieders sal die loting behartig. Die voormalige Wallabies-kaptein James Slipper, All Blacks-legende Dan Carter, voormalige Australiese sewesrugbyster Alicia Lucas en die voorsitter van Wêreldrugby Brett Robinson is die aanbieders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-897-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-218-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….