Nuus 07:00
BULLETIN 7 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die G20-beraad moet skuldkwessies aanspreek
# Kongreslid Nancy Pelosi tree uit na byna 40 jaar
# En rugby: Rassie verwag ‘n verwoede stryd teen Frankryk
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is voorsitter van die G20 terwyl die wêreld toenemend ongelykhede in rykdom en inkomste beleef. Die G20-leiersberaad vind op 22 en 23 November in Johannesburg plaas. Ramaphosa het gister vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord en gesê die beraad moet ‘n politieke verbintenis maak om skuldprobleme in lae- en middel-inkomstelande omvattend en doeltreffend te hanteer:
# Die Verkiesingskommissie verwelkom die geleentheid om die integriteit van verlede jaar se verkiesing in die hof te verdedig. Die MK-party het ‘n aansoek ingedien om die nasionale en provinsiale verkiesingsuitslae tersyde te stel, en beweer dit was nie vry en regverdig nie. Die kommissie beveg die aansoek en sal bewyse lewer dat die verkiesing in ooreenstemming met die Grondwet en kieswette gehou is. Die saak word op 26 November in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor.
# Die DA het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, versoek om stappe te verduidelik om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te stabiliseer te midde van groeiende chaos. Dit volg nadat die voormalige voorsitter van die raad, Karen Stander, bedank het weens bewerings van boeliegedrag, rassisme en intimidasie, terwyl die waarnemende uitvoerende hoof, Waseem Carrim, regsadvies inwin. Delmaine Christians van die DA waarsku dat voortdurende gebrek aan bestendigheid volgende jaar se studentebefondsing vir klasgeld en verblyf kan vertraag of blokkeer. Christians doen ‘n beroep op ‘n volledige ondersoek.
# Operasie Dudula sê hy gaan appelleer teen die Hooggeregshof in Johannesburg se onlangse uitspraak wat die groep verbied om te keer dat buitelandse burgers toegang kry tot openbare gesondheidsfasiliteite en skole. Die groep voer ʼn volgehoue veldtog wat keer dat buitelanders veral in Gauteng en KwaZulu-Natal toegang kry tot openbare geriewe. Die hof het bevind die groep se optrede is onwettig. Operasie Dudula se president, Zandile Dabula, sê die uitspraak skep ʼn gevaarlike presedent:
# Nancy Pelosi, die eerste en enigste vrou wat as speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers gekies is, sê sy gaan nie ná die verstryking van haar termyn in Januarie 2027 weer verkiesbaar wees nie. Dit sal die dekades lange loopbaan van dié Kaliforniese Demokraat, wat een van die invloedrykste figure in Amerikaanse politiek was, tot ʼn einde bring. Die 85-jarige Pelosi is ook die eerste vrou wat ʼn groot politieke party in enige Kongres-kamer gelei het. Pelosi het sedert 1987 ʼn deel van die San Francisco-area in die Huis gelei.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê keurders het die beste span gekies vir môre se kragmeting teen Frankryk in Parys. Daar is ses veranderinge aangebring aan die span wat Japan verlede naweek op Wembley verslaan het. Boan Venter vervang die beseerde Ox Nche op loskopstut, terwyl Thomas du Toit, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Damian Willemse almal na die opdrafspan terugkeer. RG Snyman is op die bank. Erasmus sê hulle maak gereed vir ʼn taai wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-35-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-999-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….