Nuus 07:00
BULLETIN 3 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sê die ANC het by verskeie geleenthede misluk om sy alliansie te herskik
# Fannie Masemola ontplooi ‘n gespesialiseerde span om Reigerpark-moordenaars op te spoor
# En vyf Duitse klimmers is dood in ‘n sneeustorting in die Italiaanse Alpe
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê hulle is vasbeslote om onafhanklik aan die 2026 munisipale verkiesing deel te neem. Die party, wat sedert die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 vir die ANC verkiesingsveldtogte gevoer het, het toenemend krities geword oor sy rekord in die regering. Mapaila het gister by die SAKP se jaarlikse Rooi Oktober-saamtrek in Klerksdorp, Noordwes, gesê die ANC het by vele geleenthede versuim om die alliansie nuut saam te stel:
# Die Departement van Justisie het ‘n landwye opsporingsveldtog begin om die begunstigdes van meer as 80-miljoen-rand se kinderonderhoud op te spoor. Minister Mmamoloko Kubayi het ‘n beroep op ouers gedoen om hul geld te eis aangesien fondse dikwels nie afgehaal word nie. Die departement wil betalings bespoedig deur dit direk in kinders se bankrekeninge te betaal om die las op sukkelende gesinne te verlig.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die spertyd vir skriftelike aansoeke oor die voorgestelde reëls vir die herwinning van koste vir Onafhanklike Oordragprojekte tot vandag uitgestel. Dit was oorspronklik 27 Oktober, maar die uitstel volg na ‘n versoek deur belanghebbendes vir meer tyd. Nersa sê die uitstel sal volledige insette toelaat om ‘n regulerende raamwerk te vorm wat die privaat sektor sal aanmoedig om deel te neem aan elektrisiteitoordrag. Die reguleerder beoog ook om balans tussen belange van kliënte, gelisensieerdes en beleggers te skep.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het ‘n spesiale span ondersoekers ontplooi om die noodlottige verbyry-skietery in Reigerpark, Ekurhuleni, te ondersoek. Ses mense is dood in die voorval wat Saterdagaand plaasgevind het, en drie ander is beseer. Masemola, wat gister die plaaslike polisiekantoor besoek het om die jongste inligting oor die situasie te kry en die gemeenskap toe te spreek, sê hulle sal nie toelaat dat sulke voorvalle weer gebeur nie:
# Vyf Duitse klimmers is dood nadat hulle deur ʼn sneeustorting in Italië se Dolomiet-berge getref is. Twee ander is ongedeerd. Volgens owerhede was die bergklimmers wat in aparte groepe was, teen die Cima Vertana in die Ortler-Alpe toe die snelbewegende sneeumassa hulle tref. Die liggame van twee mans en ʼn vrou is Saterdag gevind, terwyl die ander twee slagoffers, ʼn pa en sy 17-jarige dogter, se oorskot gister opgespoor is. Die aantal ongelukke in die Italiaanse Alpe het die afgelope jare toegeneem.
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Laura Wolvaardt, sê sy is baie trots op die span se vertoning in die Eendagreeks-Wêreldbeker vir vroue. Wolvaardt se onverskrokke 101 was egter verniet en die Protea-vroue het met 52 lopies teen Indië verloor in die eindstryd in Mumbai. Die Indiese vrouespan het met hul derde poging geseëvier nadat hulle in 2005 en 2017 naaswenners was. Wolvaardt sê dis nie lekker om aan die verloorkant te wees nie, maar sy is vol vertroue die ervaring sal die span sterker maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-725-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-998-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….