Nuus 07:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 13 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor die buitensporige koste van spyseniering op die presidensiële vliegtuig
# Die minister van Elektrisiteit kla glo oor sy beperkte magte
# En, sewe mense is in hegtenis geneem ná botsings tussen pro-Palestynse en pro-Israeli groepe in Kaapstad
# Die DA-leier John Steenhuisen sê hy gaan die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka vra om ondersoek in te stel na bewerings van verkwistende uitgawes vir spyseniering aanboord die Inkwazi presidensiële vliegtuig. Volgens bewerings het die spyseniering op die 12-uur lange vlug van Londen na Suid-Afrika, na die begrafnis van Koningin Elizabeth die Tweede verlede jaar, op 24-duisend-rand per kop te staan gekom. Steenhuisen sê dit kom neer op net onder 600-honderd-duisend-rand in totaal vir minder as 18 BBP-gaste, wat president Cyril Ramaphosa en die ANC se blatante minagting vir belastingbetalers demonstreer:
Speel klankgreep: ENG SteenhuisenOnExpenditure
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het volgens berigte verlede week tydens ‘n nasionale werkkomiteevergadering van die ANC gekla oor sy beperkte magte in die taak om die energiekrisis te beëindig. Volgens City Press het die minister gekla dat slegs die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, toegang het tot die Eskom-direksie en hy nie. Ramokgopa kan skynbaar net deur Gordhan met die kragvoorsiener se opwekkingshoof Bheki Nxumalo kommunikeer. Die ANC se nasionale werkkomitee het volgens berigte die nasionale uitvoerende komitee opdrag gegee om die magte van die minister van Elektrisiteit te ondersoek.
# Die polisie in Kaapstad het bevestig dat sewe mense in hegtenis geneem is op aanklagte van openbare geweld ná botsings tussen pro-Palestynse en pro-Israeli groepe gister op die Seepunt Promenade. Volgens berigte moes ‘n pro-Israel gebedsbyeenkoms gekanselleer word weens kommer oor veiligheid nadat Palestynse ondersteuners voor die gebedsbyeenkoms op dieselfde plek bymekaargekom het. Polisiewoordvoerder FC Van Wyk sê skokgranate en ‘n waterkanon moes gebruik word, nadat sommige van die mense instruksies om uiteen te gaan verontagsaam het. Die botsings het plaasgevind te midde van die voortslepende konflik tussen Israel en Palestina.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê hy ondersoek die omstandighede wat gelei het tot die onwettige storting van mediese afval op ‘n veld buite Ormonde, suid van Johannesburg. Lede van ‘n plaaslike buurtwag het op die afvalmateriaal afgekom wat glo uit gebruikte inspuitnaalde en mediese lêers bestaan. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modibe sê hulle het dit aan die Stad Johannesburg se omgewingsgesondheidsafdeling gerapporteer wat die saak in ooreenstemming met die toepaslike wetgewing verder sal voer:
Speel klankgreep: ENG ModibaOnMedicalWaste
# Krieket: Die gashere Indië het Nederland met 160 lopies in Bengaluru verslaan en die groepfase van die Wêreldbeker onoorwonne afgesluit. Shreyas Lyer het ‘n onoorwonne 128 aangeteken en KL Rahul het 102 lopies opgestapel met Indië wat 410 vir vier op die telbord gehad het – hulle tweede hoogste Wêreldbeker-totaal. Die Nederlanders is in antwoord hierop vir 250 in 47,5 boulbeurte uitgehaal. indië berei hulle nou voor vir hulle halfeindstryd-kragmeting Woensdag teen Nieu-Zeeland in Moembaai. Donderdag kom Suid-Afrika teen Australië in die ander halfeindstryd te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-163-dollar-5-sent. Die prys van goud is een-duisend-937-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-66-sent per vat.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, gaan ‘n ooreenkoms met Google sluit waardeur die departement en die digitale platform op verskeie gebiede gaan saamwerk. Dit is in ooreenstemming met die departement se werk vir die bevordering van die gebruik van tegnologie om Suid-Afrika se toerisme-aanbod te bemark. Die departement sê die hoofdoel van die vennootskap is om Google se tegnologiese kundigheid aan te wend in sy pogings om die land as ‘n vooraanstaande toeristebestemming te bevorder. Die samewerkingsareas sluit in digitale vaardigheidsopleiding, en die bevordering van kultuur en erfenisplekke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….