Nuus 07:00
BULLETIN 8 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa en die pas verkose Britse premier wil hul bande versterk
# Vier weermaglede sterf weens vermoedelike vergiftiging
# En die steratleet en akteur, John Cena wil volgende jaar uittree
# President Cyril Ramaphosa en die pas verkose eerste minister van Brittanje, Keir Starmer, het hulle gedeelde toewyding uitgespreek om bande tussen die twee lande te versterk. Starmer het verlede week die pos aanvaar nadat die Arbeidersparty ‘n geskiedkundige wegholoorwinning in die algemene verkiesing behaal het. Dit het 14 jaar se Konserwatiewe regering beëindig. Die Presidensie sê Ramaphosa het Starmer in ʼn telefoongesprek gelukgewens en die twee leiers wil verhoudings op gebiede soos billike energie-oordrag, handel en belegging versterk.
# Vier lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is vermoedelik aan koolstofmonoksied-vergiftiging in Noordwes dood. Hulle was aan diens as deel van Operasie Vala Umgodi wat onwettige mynbedrywighede bekamp. Die SANW-woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê voorlopige bevindings dui daarop dat hulle vermoedelik in ʼn houer vuur gemaak het omdat die nag so koud was:
# Die Stad Kaapstad sê sy multidissiplinêre rampspanne bly gereed totdat die ergste weer en die uitwerking daarvan hanteer is. Meer as vier-duisend mense is dakloos gelaat en sowat een-duisend huise is vernietig nadat swaar reën die naweek oorstromings veroorsaak het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hulle gaan voort met assessering om die aard en omvang van humanitêre hulp wat nodig is, te bepaal:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns en Ontspanning, Matome Chiloane, sal dié week die aanvang van die 2025 aanlyn toelatings vir graad 1 en 8 aankondig. Hy sal ook die aansoek- en plasingsproses uiteensit. Die vertraging met die aansoekstelsel vir volgende jaar se inname het duisende ouers laat sweet. Chiloane gee die versekering die departement het die stelsel verbeter.
# Motorsport: Die sewemalige Britse wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het sy rekord verbeter toe hy die Britse Grand Prix die negende keer gewen het. Die Mercedes-renjaer het Max Verstappen van Red Bull se verbysteek-poging aan die einde gefnuik en sy eerste Formule Een-oorwinning sedert 2021 behaal. Lando Norris van McLaren was derde. Hamilton het met sy 104de Grand Prix-sege van sy loopbaan die eerste F1-renjaer geword wat dieselfde wedren nege keer wen. Hy sê die oorwinning op sy tuis-baan is spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-899-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-385-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-28-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Amerikaanse ster John Cena het planne aangekondig om volgende jaar sy glorieryke loopbaan te beëindig. Die 47-jarige sê hy sal groet by die Royal Rumble, Elimination Chamber, en WrestleMania 41 in Las Vegas. Cena sê hy is nou meer as 20 jaar betrokke by World Wrestling Entertaining-byeenkomste en het ongelooflike welvaart en uiterste swaarkry beleef. Hy is 16 keer as wêreldkampioen gekroon na sy debuut in 2001. Cena was ook in verskeie flieks, waaronder Trainwreck, The Suicide Squad en Argylle.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….