Nuus 07:00
BULLETIN 26 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie bevestig geen party in die regering van nasionale eenheid sal beleid verander nie
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid kom ten koste van aanspreeklikheid tot stand
# En die Nasionale Gesondheidslaboratorium is steeds vanlyn ná die naweek se kuberaanval
# Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, benadruk dat geen enkele party van die regering van nasionale eenheid eensydig ooreenkomstig hulle manifeste beleid sal verander nie. Daar is tien partye in die regering van nasionale eenheid en president Cyril Ramaphosa moet nog sy kabinet aankondig. Magwenya het aan Newzroom Afrika gesê daar is ten opsigte van die Verklaring van Voorneme geen onduidelikheid oor beleid nie wat strook met die Grondwet en kollektiewe besluitneming oor beleid, wetgewing en regulasies:
ActionSA sê intussen hy is bekommerd oor ‘n scenario waar die meeste opposisiepartye in die regering van nasionale eenheid die uitnodiging aanvaar het om by die ANC en DA se groot koalisie aan te sluit, en hulle in konflik laat. Michael Beaumont van ActionSA sê dit klink asof die onderhandelinge vir ʼn regering van nasionale eenheid tot ʼn groter kabinet gaan lei:
# Al die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens se IT-stelsels is steeds vanlyn na die naweek se kuberaanval. Die laboratorium se uitvoerende hoof, Koleka Mlisana, sê alle stelsels, intern en ekstern, na en van gesondheidsorgfasiliteite, is steeds ontoeganklik en sal so bly totdat die omgewing se integriteit herstel en veilig is. Dit is die enigste bron van laboratoriumdienste in die openbare sektor. Mlisana het vroeër in ʼn interne memo personeel die versekering gegee die betaalstelsel word nie geraak nie en salarisse sal soos gewoonlik betaal word.
# ‘n Inter-regeringskomitee van die Stad Kaapstad is geskep om hondsdolheid onder die Kaapse pelsrob-bevolking te takel. Die komitee, wat verteenwoordigers van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, die Suid-Afrikaanse Parkeraad en veeartseny-spesialiste insluit, het ten doel om die omvang van hondsdolheid by die robbe te bepaal en ‘n bestuurstrategie in te stel. Daar is nou vyf bevestigde gevalle van hondsdolheid onder die Kaapse pelsrob-bevolking. Die publiek word aangeraai om kontak met robbe te vermy en riglyne te volg. Onmiddellike mediese aandag is nodig sou iemand deur ‘n rob gebyt word.
# Krieket: Afghanistan se kaptein, Rashid Khan, het die krieket-legende Brian Lara geloof wat sy span geïnspireer het om die eerste keer plek in die T20-wêreldbeker te kry. Afghanistan het die laaste vier gehaal ná ʼn naelbyt-sege van agt lopies oor Bangladesj wat ook die magtige Australië uitgeskakel het. Khan sê Lara was die enigste persoon wat gedink het Afghanistan sal die halfeindronde haal en dit het hulle baie energie gegee. Afghanistan speel in die eerste halfeindronde-wedstryd in Trinidad teen ʼn onoorwonne Suid-Afrika terwyl Indië die verdedigende kampioen, Engeland, in Guyana takel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-173-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-41-sent per vat.
# En ‘n eienaardige storie om mee af te sluit: Ronaldo, die 1,8 meter lange Brasiliaanse reënboog-luislang wat ʼn veearts nege jaar gelede as mannetjie geklassifiseer het, het 14 kleintjies gekry al het hy geen kontak met ander slange gehad nie. Wetenskaplikes skryf dit toe aan ʼn skaars verskynsel, partenogenese. ʼn Reptielkenner beskryf dit as ʼn natuurlike vorm van aseksuele voortplanting waar embrio’s sonder bevrugting ontwikkel. Dit kom voor by plante en sommige diere, maar Ronaldo se swangerskap is slegs die derde geval in die wêreld wat vir ʼn luislang in gevangenskap aangeteken word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….