Nuus 07:00
BULLETIN 14 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die EFF sal nie met die DA en VF Plus saamwerk nie
# Die ANC het sy premierskandidate vir verskeie provinsies gekies
# En rugby: Rassie Erasmus het sy kandidate aangewys om die Bokke teen Wallis aan te voer
# Die EFF-leier Julius Malema sê hulle is nie teen ‘n regering van nasionale eenheid gekant nie, maar sal nie deelneem aan ʼn regering wat regse en reaksionêre politieke partye insluit nie. Hy het die media gisteraand oor koalisiesamesprekings toegespreek. Die EFF is die vierde grootste party in die land met 9,52-persent van stemme in die algemene verkiesing. Malema sê hulle sal nie saam met die DA en VF Plus werk nie:
Malema sê voorts hulle is vas oortuig die MK-party moet toegelaat word om in KwaZulu-Natal te lei. Oudpresident Jacob Zuma se party het in die algemene verkiesing 45-persent van die stemme gekry. Dis egter nie ʼn volstrekte meerderheid nie en die party skarrel nou om ʼn koalisievennoot te kry. Malema sê dit was altyd praktyk dat die party met die meeste stemme die regering vorm:
# Die ANC het ná ‘n streng keuringsproses sy premierskandidate vir verskeie provinsies aangekondig. Die kandidate, waaronder Lubabalo Oscar Mabuyane vir die Oos-Kaap, Phophi Ramathuba vir Limpopo en ander vir Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en die Noord-Kaap, is gekies op grond van hul doeltreffende leierskap en die ANC se prioriteite vir transformasie en lewensverbetering te bevorder. Die ANC het vertroue uitgespreek in hierdie kandidate en sê hul beskik oor die nodige eienskappe soos eerlikheid, vaardigheid en toewyding om hul onderskeie provinsies te lei en by te dra tot die breër doelwitte van die nasionale demokratiese revolusie.
# Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het die nuwe kabinet van die provinsiale regering bekendgemaak. Anroux Marais is die nuwe LUR vir Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid, in die plek van Reagan Allen, wat nou die adjunkspeaker van die wetgewer is. Ricardo Mackenzie skuif na Kultuursake en Sport en word opgevolg deur Isaac Sileku as LUR vir Mobiliteit. Deidre Baartman is die nuwe LUR vir Finansies en Mireille Wenger die nuwe LUR vir Gesondheid en Welstand. Die oorblywende portefeuljes bly onveranderd:
# Drie lande by die G7-beraad, Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada beweer Russiese operateurs is besig met planne om die uitslag van Moldawië se presidentsverkiesing in Oktober te beïnvloed. Die lande sê in ʼn verklaring Moskou beplan om betogings in Moldawië aan te hits indien ʼn pro-Russiese kandidaat nie wen nie. Hulle werk saam met Moldawiese owerhede om diegene agter die beplande inmengery vas te trek. Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada sê hulle sal nie pogings om by demokratiese prosesse in te meng en dit te ondermyn, verdra nie.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi is voorlopers om die span volgende naweek op Twickenham in die eenmalige toets teen Wallis aan te voer. Kaptein Siya Kolisi is nie beskikbaar nie omdat dit buite die amptelike toets-venster val en sy Franse klub, Racing 92, hoef hom nie vir internasionale diens vry te stel nie. Erasmus sê ʼn finale besluit oor die kapteinskap sal voor volgende maand se reeks van twee wedstryde teen Ierland geneem word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-776-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-305-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….