Nuus 07:00
BULLETIN 12 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP se Nasionale Raad sal ingelig word oor die koalisiegesprekke
# Twee verdagtes is in hegtenis geneem vir die moorde by ’n haarkapper in Khayelitsha
# En die Wêreldbank voorspel ‘n stabilisering van die wêreld-ekonomie
# Die IVP sê sy koalisie-onderhandelingspan gaan vandag sy nasionale raad, die party se hoogste besluitnemingsliggaam tussen konferensies, inlig om ‘n mandaat oor sy voorstelle te verkry. Die onderhandelingspan van sewe lede gelei deur die adjunk-president, Inkosi Mzamo Buthelezi, het gesprekke met ander politieke partye oor die ANC se voorstel oor ‘n regering van nasionale eenheid gehou. Die party gaan ook die media vanaand inlig. Die ANC leun glo in die rigting van ‘n regering saam met die DA en die IVP.
# Die Vakbond Solidariteit het politieke partye wat betrokke is by samesprekings vir ‘n regering van nasionale eenheid, versoek om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering teen te staan. Die oproep volg te midde van president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy die vakbond se hofaansoek teen die NGV gaan teenstaan. Anton van der Bijl van Solidariteit voer aan die NGV is ongrondwetlik, onbekostigbaar en sal toegang tot gehalte gesondheidsorg verminder. Van der Bijl beloof om die NGV in die hoogste hof uit te daag:
# Twee verdagtes is aangekla van die moord op ‘n 30-jarige man en drie kinders in Khayelitsha, asook nege aanklagte van poging tot moord. Dit volg na onbekende gewapende mans Saterdagmiddag die haarsalon binnegegaan en op die mense geskiet het. Die verdagtes sal Vrydag in die Khayelitsha-landdroshof verskyn. Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê dit is ‘n groot deurbraak:
# ‘n Man van Durban wat beskuldig word dat hy ‘n pro-Palestynse vrou vermoor het, verskyn weer volgende maand in die plaaslike landdroshof, nadat psigiaters bevind het hy is geskik om verhoor te word. Die 40-jarige Grayson Beare staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord na sy vroeëre aanval op Falima Hoosen-Preston en haar gesin. Beare is die aangenome seun van die besturende direkteur van kleinhandelaar, Beare Holdings, en die familie distansieer hulleself van die beskuldigde se optrede en sal in geen opsigte deel wees van sy verdediging nie.
# Die Wêreldbank voorspel die globale ekonomie sal op ‘n swakker vlak stabiliseer met groei wat vanjaar 2,6-persent sal bereik en 2,7-persent in 2025 en 2026. Die vooruitskatting is laer as die 3,1-persent gemiddeld voor Covid-19. Volgens die bank sal ontwikkelende ekonomieë met vier-persent groei, ietwat laer as in 2023. Daarteenoor sal lae-inkomste ekonomieë na verwagting teen vyf-persent groei terwyl gevorderde ekonomieë bestendig teen 1,5-persent sal groei. Die bank sê globale inflasie sal matig wees, maar rentekoerse sal hoog bly.
# Gholf: Die wêreld se nommereen, Scottie Scheffler van Amerika, sy landgenoot Xander Schauffele en Rory McIlroy van Noord-Ierland is saam gegroepeer vir die eerste ronde van die 124ste Amerikaanse Ope. Die Amerikaner Wyndham Clark, wat McIlroy verlede jaar geklop het, begin sy titelverdediging saam met sy landgenoot Brian Harman en Nick Dunlap. Die driemalige wenner, Tiger Woods slaan saam met Will Zalatoris van Amerika en Engeland se kampioen van 2022, Matt Fitzpatrick af. McIlroy sê dit is opwindend om deel van die uitgelese groep te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-411-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….