Nuus 07:00
BULLETIN 12 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie sê Operasie Vulindlela sal markte oopstel vir private beleggings
# AfriForum sê gemeenskappe moet groter verantwoordelikheid vir hul eie sake neem
# En rugby: Dupont skuif na losskakel vir die kragmeting teen die Springbokke
# Die Nasionale Tesourie sê Operasie Vulindlela se strukturele veranderinge sal tyd neem. Die operasie is ontwerp om strukturele hervormings wat ‘n groot uitwerking sal hê, te bespoedig en ekonomiese herstel in Suid-Afrika te bevorder. Elektrisiteit is een van die belangrike fokusareas van hervorming. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê die veldtog vir belegging in hernubare energie gaan voort, maar die struikelblok is tans die nasionale netwerk self wat meer as 100-miljard-rand se beleggings nodig het om uit te brei en te moderniseer. Hy sê hervorming in spoorvervoer, infrastruktuur en water sal eeue oue monopolieë beëindig.
# AfriForum sê gemeenskappe behoort meer verantwoordelikheid vir hul eie behoeftes, insluitend veiligheid, onderwys en basiese dienste, te aanvaar, te midde van voortgesette pogings om die Grondwet te wysig. Die organisasie voer aan die Grondwet maak wel voorsiening vir bevoegdhede op provinsiale en munisipale vlak, maar te veel politieke en finansiële gesag is steeds gesentraliseer, wat plaaslike besluitneming beperk. Martin van Staden van AfriForum sê gemeenskappe behoort in hul eie behoeftes te voorsien om sodoende meer onafhanklik te word en in die toekoms groter beheer oor hul eie sake te verkry:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Onderwys waarsku daar moet nog baie gedoen word om die BELA-wetgewing te implementeer terwyl ouers voorberei vir die 2027-skooljaar. Die wet maak graad R verpligtend en verander toelatings- en taalbeleide. Die Departement van Onderwys sê 11-duisend-715 toelatingsbeleidhersienings en 11-duisend-657 taalbeleidhersienings van skole is uitstaande. Die voorsitter van die komitee, Joy Maimela sê onvolledige hersienings kan ouers benadeel wat aansoek doen om toelating. Sy sê die komitee het verskeie kwessies aangeraak, insluitend befondsing, infrastruktuur- en kapasiteits- en klaskamertekorte, praktisynskwalifikasies en vertragings in die finalisering van regulasies.
# ʼn Luukse Ferrari van meer as elf-miljoen-rand wat aan die vermeende tender-bedrieër, Hangwani Maumela, behoort, is op ʼn veiling vir 10,1-miljoen-rand verkoop, wat meer is as die minimum prys van 9,5-miljoen-rand. Die motor word verbind met die plundery van twee-miljard-rand by die Tembisa-hospitaal. Maumela word beskuldig dat hy die baasbrein was agter drie sindikate wat by die plundery betrek word, en het glo meer as 900-miljoen-rand se tenders van die hospitaal gekry. Die Spesiale Ondersoekeenheid se woordvoerder, Selby Makgotho, sê dis ʼn stap in die regte rigting:
# Amerika se spesiale gesant, Jared Kushner, beskryf die afgelope twee dae se vredesonderhandelings met Rusland en Oekraïne in Abu Dhabi as moeilik maar produktief. Hy voeg by die grootste struikelblok is steeds gebiedskwessies. Die onderhandelings het egter geen teken gelaat van deurbrake om die oorlog van byna vyf jaar te beëindig nie. Kushner sê hulle het ooreengekom om op groot skaal gevangenes uit te ruil, en hulle werk daaraan om Europese lande by die onderhandelings te betrek. Moskou was tot dusver gekant teen hierdie multilaterale formaat:
# Rugby: Frankryk se kaptein, Antoine Dupont, sal môreaand in Parys losskakel speel in die Nasieskampioenskap-wedstryd teen Suid-Afrika. Die voormalige Wêreld-speler van die Jaar vervang die beseerde Romain Ntamack, terwyl Maxime Lucu in Dupont se plek as skrumskakel uitdraf. Dit sal die eerste keer in 66 toetse wees dat Dupont die nommer tien-trui dra. In ander belangrike veranderinge is die haker, Julien Marchand, en nommer agt, Gregory Alldritt, gekies om die Springbokke se aanvalsmag te bekamp. Les Bleus het die Springbokke in 2022 laas gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-530-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-991-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….