Nuus 07:00
BULLETIN 28 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki voorspel meer koalisies na afloop van die plaaslikeregeringsverkiesing
# Die staat het 2,7-miljoen-rand vir Senzo Mchunu se regskoste betaal
# En, AfriForum eis antwoorde oor Tshwane se waterkrisis
# Oudpresident Thabo Mbeki sê hy verwag dat die uitslag van die plaaslikeregeringsverkiesing tot meer koalisieregerings sal lei. Volgens onlangse peilings het die ANC se 40,2-persent in die 2024 nasionale verkiesing met minstens ses persentasiepunte gedaal, terwyl die DA minstens drie-persent beter doen. Die grootste stryd is in metro’s soos Johannesburg, Tshwane, Kaapstad en eThekwini. Mbeki sê koalisieregerings hou groot uitdagings in:
# Die ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, Raymond Parsons, sê die regering moet diplomatieke pogings verskerp om te verhoed dat voorkeurhandelsvoordele kragtens die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika verlore gaan. Parsons waarsku die verlies aan toegang tot sleutelsektore, soos landbou en die motorbedryf, kan die sektore benadeel en werkgeleenthede in gevaar stel. Hy sê die impak kan moontlik bestuur word, maar dit kom op ‘n tyd waar Suid-Afrika se groeivoorspelling tot 1,2-persent gedaal het wat dit noodsaaklik maak om handel met China, Indië en ander Afrikalande uit te brei.
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het 2,7-miljoen-rand aan regskoste betaal vir die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat tans op spesiale verlof is. Die staat betaal ook Mchunu se salaris van drie-miljoen-rand terwyl hy by die huis sit. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het in ‘n geskrewe antwoord in die Parlement gesê die befondsing is volgens die departement se beleid oor regsverteenwoordiging deur die staat voorsien. Mchunu word beskuldig van politieke inmengery by die Suid-Afrikaanse Polisiediens, bande met misdaadsindikate en die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde.
# AfriForum het aan die Stad Tshwane geskryf en eis antwoorde oor die huidige watervoorraad en watergehalte. Die metro het tans ʼn probleem met besmette water in Bronkhorstspruit, waar 833 gevalle van maagdermsiekte aangemeld is. Dit hou verband met die Bronkhorstspruit-watersuiweringsaanleg waar water nie met chloor behandel is nie, en inwoners nou op watertenkwaens moet staatmaak. Marais de Vaal van AfriForum sê Tshwane het nie die vermoë om die metro se waternetwerk doeltreffend te bestuur nie:
# Twee Britse burgers is ingevolge die Verenigde Koninkryk se Wet op Nasionale Veiligheid aangekla oor ʼn vermeende terreurkomplot verlede maand by die RAF Fairford. Mohmed Abdulkarim word aangekla dat hy ʼn buitelandse intelligensiediens, vermoedelik Iran, gehelp het, terwyl Nouman Essghir aangekla word dat hy verbode terrein betree het met die doel om die Verenigde Koninkryk te benadeel. Vyf ander mans is uit op borgtog. Die VK-hoof van Nasionale Polisiëring teen Terrorisme, Laurence Taylor, sê ondersoeke waarby gevolmagtigdes betrokke is, neem tyd om vas te stel wat die betrokke persone weet:
# Rugby: Die Springbok-haker Scarra Ntubeni wat onlangs uitgetree het, kan ‘n verrassende terugkeer vir die Stormers maak in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Ulster in Kaapstad. Die gashere beleef ‘n krisis nadat beide André-Hugo Venter en Deon Fourie verlede naweek teen Scarlets beseer is, met Bok-flank Paul de Villiers wat die lynstaanpligte oorgeneem het. Nog ‘n haker, JJ Kotzé, dien ‘n skorsing uit vir vuilspel in ‘n vroeëre wedstryd teen die Bristol Bears. Direkteur van rugby, John Dobson, het Ntubeni gevra om by die groep aan te sluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-855-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-45-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 116-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….