Nuus 06:00 (DGO)
BULLETIN 25 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Naledi Pandor sê Gertrude Shope sou verslae gestaan het oor die ANC se agteruitgang
# Die MK-party verwerp die SETA-aanstellings
# En rugby: Die Springbok-vroue skop op ’n wenvoet af in die Wêreldbeker
# ANC-veteraan en voormalige minister, Naledi Pandor, sê die oorlede oudpresident van die Vroueliga, Gertrude Shope, sou ontsteld gewees het oor korrupsie en dalende ANC-waardes. Sy het gister tydens die Gertrude Shope-gedenklesing in Pretoria gepraat. Shope is in Mei vanjaar op 99-jarige ouderdom oorlede. Pandor sê Shope was bewus van die party se agteruitgang, nie net in verkiesingsgetalle nie, maar ook in vermoë om die essensiële karakter van die ANC te handhaaf. Sy sê dis hartseer maar sy het gesien hoe die rewolusionêre ideaal deur korrupsie afgetrek word.
# Die MK-party het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, se aanstelling van Oupa Nkoane, Leholonolo Masoga en Zukile Mvalo as administrateurs van drie Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede sterk veroordeel. Die party sê die drie se rekords weerspieël finansiële wanbestuur en korrupsie en waarsku dat hul aanstellings neerkom op staatskaping van die SETA’s. Die party sê met stygende jeugwerkloosheid gaan miljarde wat vir vaardigheidsontwikkeling bedoel is, geplunder word en eis die onmiddellike omkering van die aanstellings.
# Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, het bevestig dat daar stappe gedoen is om die onwettige kontrakte by die Tembisa-hospitaal te kanselleer. Mothibi het bevestig dat 111 amptenare by vier korrupsiesindikate betrek word. Tugprosesse word gevolg en sommige is reeds ontslaan. Hy het ook bevestig dat bates ter waarde van miljarde rand teruggevind en op beslag gelê sal word.
# ‘n Drie-en-dertigjarige man wat deur die Valke in hegtenis geneem is in verband met die moord op staatsaanklaer Tracy Brown, sal na verwagting vandag in die hof verskyn op aanklagte van moord. Die 42-jarige Brown is op 31 Julie buite haar huis in Gqeberha doodgeskiet. Die verdagte, wat na Gauteng gevlug het, is verlede Donderdag by ‘n padblokkade in hegtenis geneem. Die Valke se provinsiale hoof, Obed Ngwenya, sê die inhegtenisneming dui op vordering, maar die ondersoek duur voort.
# Die Staalbuis-uitvoervereniging van Suid-Afrika sal van vandag tot Saterdag deelneem aan ‘n verkoopsending na Nigerië en Ghana. Die sending, wat deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging aangebied word, is daarop gemik om die nywerheid, uitvoere en werkskepping te bevorder. STEASA se uitvoerende hoof, Keitumetse Moumakoe, sê die inisiatief sal die bedryf se voetspoor in Wes-Afrika se hidrouliese, pneumatiese en mynbousektore uitbrei. Sy sê dis belangrik, aangesien Nigerië en Ghana as poorte tot streeksnywerheidswaardekettings dien.
# Rugby: Die Springbok-vroue het hul Wêreldbeker-veldtog gister met ‘n oorwinning van 66-6 teen Brasilië in Northampton, Engeland, begin. Suid-Afrika het tien drieë gedruk met Aseza Hele wat drie keer agter die doellyn gedraai het. Dit is die Bok-vroue se eerste Wêreldbeker-groepsoorwinning sedert 2010. Afrigter Swys de Bruin se span sal volgende teen Italië te staan kom voordat hulle die groepfase teen Frankryk afsluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-475-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….