Nuus 06:00
BULLETIN 18 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma sal vandag in die Hooggeregshof wees vir sy privaat vervolgingsaak teen president Ramaphosa
# Beurtkrag bly opgeskort weens volgehoue opwekkingsvermoë
# En Siya Kolisi is ingesluit op Time se lys van die 100 mees invloedryke mense van 2024
# Oudpresident Jacob Zuma gaan in die Hooggeregshof in Johannesburg verskyn in sy hoedanigheid as die privaat aanklaer in sy privaat vervolgingsaak teen president Cyril Ramaphosa. Die Zuma-stigting sê die doel van die verskyning is om die hof in te lig oor die voortgesette appèlle in die Appèlhof rakende die hersiening en tersydestelling van die dagvaarding wat op die beskuldigde beteken is.
# Beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing. Dit is nou 22 opeenvolgende dae sonder kragonderbrekings. Die laaste keer dat Eskom ’n soortgelyke mylpaal behaal het, was in Junie 2022, met 20 opeenvolgende dae sonder beurtkrag. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die voortgesette opskorting van beurtkrag is die gevolg van volgehoue opwekkingsvermoë, voldoende noodreserwes en verminderde aanvraag:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê hulle beraam ‘n plan om verdrinking tydens skoolkampe te vermy. ’n Onafhanklike regsfirma sal aangestel word om die dood van twee leerders van die Daveyton Skills School in Benoni te ondersoek. Die seuns het Maandag tydens ‘n skooluitstappie verdrink by ‘n privaat kampeerterrein naby die Hennopsrivier in Centurion. Chiloane sê water-uitstappies is belangrik in die kurrikulum van kinders, maar dit moet veilig wees:
# Meer as 50-duisend Russiese soldate het reeds gesneuwel sedert die inval in Oekraïne in Februarie 2022. Die syfer is bevestig deur BBC Russian, die onafhanklike mediagroep Mediazona en vrywilligers wat die sterftes tel. Onder dié wat gesneuwel het is 27-duisend-300 soldate wat hulle lewens in die tweede jaar van die konflik verloor het. Na wat berig word het Rusland die afgelope twaalf maande sy vleismeulstrategie versterk, wat verwys na die manier waarop vlae soldate sonder genade ingestuur word om die magte van Oekraïne te probeer uitput.
# Rugby: Die voormalige Walliese kaptein, Ken Owens, het sy uittrede aangekondig weens ‘n voortdurende rugbesering. Die veteraan-haker het 91 toetse vir Wallis gespeel, vyf kragmetings vir die Britse en Ierse Leeus en 274 wedstryde vir Scarlets. Hy was langs die kantlyn tydens verlede seisoen se Uitdaagbeker-halfeindstryd teen die Glasgow Warriors. Die 37-jarige Owens het in Julie ‘n operasie ondergaan en moes later aan Wallis se Wêreldbeker-groep onttrek. Hy sê dit is nie die manier waarop hy sy loopbaan wou eindig nie, maar dit is veel meer as waarvan hy ooit kon droom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-444-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-369-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Springbok-kaptein Siya Kolisi is aangewys op die tydskrif Time se lys van die wêreld se 100 invloedrykste mense vir 2024. Dit volg nadat hy Suid-Afrika verlede jaar vir die tweede agtereenvolgende keer na rugby-oorwinnings in die Wêreldbekertoernooi in Frankryk gelei het. Kolisi se naam verskyn onder die “innoveerders”. Die tydskrif beskryf hulle as mense wat hy glo die grootste veranderings meegebring het aan die stories van die afgelope jaar. The Citizen berig ander mense wat op die lys verskyn is kunstenaars Kylie Minogue en Michael J Fox, en sportsterre Max Verstappen en Jenni Hermoso.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….