Nuus 06:00
BULLETIN 11 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma gaan voort met die privaat vervolging van president Ramaphosa
# Eskom sê daar is geen beurtkrag tot verdere kennisgewing nie
# En die VF Plus oorweeg regstappe oor motoriste wat steeds hul e-tolskuld moet betaal
# Oudpresident Jacob Zuma se private vervolging van president Cyril Ramaphosa word vandag in die Hooggeregshof in Johannesburg verder gevoer. Zuma beskuldig Ramaphosa daarvan dat hy medepligtig is in ‘n ander privaat vervolging teen staatsaanklaer, Billy Downer, en joernalis, Karyn Maughan. Die Jacob Zuma-stigting verwag dat Zuma dit persoonlik sal bywoon om die hof op die hoogte te bring van appèlle oor die dagvaarding op Ramaphosa in Desember 2022. Die Hooggeregshof het Zuma se private vervolging van Ramaphosa tersyde gestel en dit as onregmatig en ongrondwetlik beskryf.
# Eskom sê beurtkrag sal tot verdere kennisgewing opgeskort bly weens volgehoue opwekkingsvermoë en voldoende noodreserwes. Dit volg ná twee opeenvolgende weke sonder beurtkrag, die langste tydperk sedert die Desember-feestyd. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle sal Sondagmiddag ‘n stelsel-voorligting gee of indien enige beduidende veranderinge plaasvind:
Die Vryheidsfront Plus sê hy sal vasstel of regstappe gedoen kan word om uitstaande e-tolrekeninge suksesvol af te skryf en geld wat reeds betaal is, terug te eis. Dit volg nadat die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga bevestig het daar gaan steeds van Gautengse motoriste verwag word om hul e-tolrekeninge te vereffen terwyl die regering gereed maak om die tolhekke af te skakel. Anton Alberts van die party sê die hulle was van die begin af gekant teen die stelsel:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê ondanks die heropening van alle distrikte, bly 16 skole gesluit weens skade of versperde paaie. Die LUR David Maynier sê herbouprosesse is aan die gang nadat meer as 100 skole beskadig is in die naweek se gure weer. Hy waardeer amptenare, skole, ouers, die Weerdiens en die rampbestuurspan se hulp en bystand:
# Hamas kan blykbaar nie 40 Israelse gyselaars opspoor wat voldoen aan die kriteria vir die eerste fase van ‘n skietstilstand-ooreenkoms nie. ‘n Israelse amptenaar sê dit laat hulle vrees meer gyselaars is in die 7 Oktober aanvalle geneem as wat vroeër bekend was, en dat hulle dood kan wees. Die raamwerk waaroor ooreengekom is deur onderhandelaars sluit Hamas se vrylating in van 40 Israelse gyselaars. Dit sluit in alle vroue, asook siek en bejaarde mans, tydens ‘n ses-weke onderbreking in die vyandighede. In ruil sal Israel honderde Palestynse gevangenes uit sy tronke vrylaat.
# Rugby: Die viertal van die Ospreys, Tristan Davies, Lewis Jones, Will Hickey en Cameron Jones het op ‘n korttermynlening by die Cheetahs aangesluit. Dit is deel van die vennootskap tussen die twee klubs wat verlede jaar begin is. Hulle sal die volgende weke beskikbaar wees vir die Bloemfonteinse konsessie in die SA Beker. Cheetahs se uitvoerende hoof, Ross van Reenen, sê deur talent en hulpbronne te deel, versterk hulle beide klubs en verryk die rugby-ervaring vir spelers en ondersteuners.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-649-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-339-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….