Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa gaan nie gedagvaar word om voor die Khampepe-kommissie te verskyn wat ondersoek instel na WVK-apartheidsake wat nie vervolg is nie. Die koerant skryf die families van slagoffers beweer die sake word verwaarloos en daar is steeds geen vordering met vervolging nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die polisiebestuur het die Hooggeregshof in Durban genader om ‘n interdik te verkry teen die optogte van die organisasie March-and-March en ander soortgelyke organisasies. Die polisie sê die doel is om die intimidasie en bedreiging teen buitelandse burgers te keer.
En tweedens skryf die webblad die Departement van Korrektiewe Dienste en die landbou-organisasie Saai gaan gevangenes leer boer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf met die naderende plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November het die polisie sy sekerheidsbeplanning opgeskerp en nasionale en provinsiale leiers, wetstoepassingsbeamptes en private sekuriteitsondernemings bymekaargebring om verkiesingsgereedheid te versterk. Die koerant berig die ministerie ontvang gereelde inligtingsessies van senior SAPD-bestuur, gelei deur nasionale kommissaris, generaal Fannie Masemola, oor operasionele voorbereiding en koördinering tussen wetstoepassingsagentskappe.
# Sowetan:
Berig vullis is besig om regoor Johannesburg op te stapel as gevolg van ‘n loonstaking deur die vakbond SAMWU. Die vullisverwyderingsmaatskappy, Pikitup, sê hulle hande is afgekap en het die publiek gevra om geduldig te wees.
# En The Citizen:
Skryf Suid-Afrika se pogings om die Olimpiese Spele aan te bied is nie uitvoerbaar nie. Die basiese koste beloop 500-miljard-rand en die land het nie die fondse beskikbaar nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die staat het reeds 1,3-miljard-rand aan nasionale gesondheidsversekering bestee voordat die howe toestemming gegee het dat die projek mag voortgaan.
Dan skryf die koerant Jacqueline Hewett van Woodstock is tot 250-duisend-rand of vier jaar gevangenisstraf gevonnis nadat verskeie spesies onwettige en bedreigde reptiele in haar besit gevind is.
En laastens word berig ‘n 44-jarige drawwer is op die Parlement se perseel in Kaapstad in hegtenis geneem. Dit is ‘n verbode gebied.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die toerismebedryf in Gqeberha is opgewonde oor die instelling van ‘n regstreekse lugroete na die Kruger-wildtuin aangesien dit nuwe moontlikhede ontsluit.
En tweedens skryf die koerant inwoners van Gqeberha is ongelukkig oor versnellingsrenne wat skynbaar sonder enige optrede van wetstoepassers in die strate van die stad plaasvind.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens daar is talle vrae oor wat van Ramaphosa se program teen geslagsgeweld en vrouemoord geword het.
En tweedens word berig die Padverkeerbestuurskorporasie het motoriste gevra om hul bestuurs- en voertuigdokumentasie geldig en op datum te kry voor die vakansieseisoen. Altesaam twee-miljoen-248-duisend-795 voertuiglisensieskyfies verval in November en Desember.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming het bevestig sewe-duisend-402 beeste is teen Woensdag op 81 plase in Kharas teen bek-en-klouseer ingeënt. Dit is meer as die helfte van die totale teiken en daar is intussen ook geen nuwe voorvalle aangemeld nie.
En tweedens skryf die koerant die Dierebeskermingsvereniging van Namibië meen die verouderde wet en skamele boete van 200-rand vir dieremishandelaars laat diere in die steek.