Nuus 06:00
BULLETIN 21 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê hy is nie verbaas omdat Zuma teen die ANC se buitelandse beleid gekant is nie
# Meer as 60 word deur Israelse magte in Gaza doodgeskiet terwyl hulle op hulp wag
# En krieket: Die Proteas klop Zimbabwe en dring deur na die eindronde van die drieledige reeks
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die party se standpunt oor selfbeskikking vir Wes-Sahara verdedig en die president van die MK-party, Jacob Zuma, beskuldig dat hy ‘n manteldraaier is. Hy het gister die party se nasionale werkkomiteevergadering met die Wes-Kaapse provinsiale uitvoerende komitee in Kaapstad bygewoon. Mbalula het gesê hy is nie verbaas oor Zuma se erkenning van Marokko se soewereiniteit in Wes-Sahara nie:
# Die DA sê verstommende nuwe besonderhede oor die toesmeerdery van onbeskaamde ANC-kaderontplooiing het aan die lig gekom tydens die Parlementêre portefeuljekomiteevergadering oor Hoër Onderwys, wat nie deur minister Nobuhle Nkabane bygewoon is nie. Die party sê soos met alle korrupsie waar ANC kaderontplooiing betrokke is, was daar nooit ‘n onafhanklike paneel wat die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid-aanstellings gemaak het nie. Willie Aucamp van die DA sê dit was agter geslote deure, deur die ANC en sy hanteerders gedoen, waarvan Luvo Makasi een is:
# Die MK-party doen ‘n beroep op die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om dadelik die uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, weer in sy pos aan te stel. Die MK-party het vertroue in die raad verloor en aangedring dat die raad ontbind moet word na die skorsing van Letsoalo. Die MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê hulle dring aan dat die minister die onafhanklike parlementêre ondersoek na die fonds onder die beskerming van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge moet laat plaasvind. Hy sê geen raads- of uitvoerende aanstellings moet plaasvind totdat die ondersoek die volle omvang van politieke inmenging of korporatiewe samespanning bepaal het nie.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die instorting van die gebou in George wat 34 lewens geëis en meer as 28 mense beseer het, maak die hersiening van alle nasionale bouregulasies noodsaaklik. Hy sê sy departement, die Ingenieursraad van Suid-Afrika, en die Raad vir die Geboude Omgewing is gesamentlik verbind tot die bevordering van verandering in die beboude omgewingsektor om soortgelyke tragedies te voorkom en die openbare veiligheid te verseker. Macpherson sê hulle sal dringend hervormings aan die parlement voorlê om toesig te versterk om soortgelyke voorvalle te verhoed:
# Ten minste 67 mense is gister in Israelse geweervuur in Gaza dood terwyl hulle gewag het op VN-hulpvragmotors deur die noordelike Zikim-kruising. Meer as 150 mense is gewond, sommige kritiek. Nog ses mense is in Khan Younis dood, ook terwyl hulle op hulp gewag het. Die Israelse weermag sê hulle het waarskuwingskote afgevuur om mense te waarsku en hulle betwis die aantal sterftes. Hulle sê die Hamas-militante hits die chaos aan en stel burgerlikes in gevaar.
# Krieket: Suid-Afrika het Zimbabwe met sewe paaltjies getroef en deurgedring tot die eindstryd van die drieledige reeks in Harare. Brian Bennett het 61 lopies aangeteken met die gashere wat beperk is tot 144 vir ses in hul 20 boulbeurte, en Corbin Bosch wat twee paaltjies geneem het. In antwoord het Rubin Hermann se 63 en kaptein Rassie van der Dussen se onoorwonne 52 die Proteas laat wen met 16 balle oor. Suid-Afrika kom Saterdag teen Nieu-Seeland in die eindstryd te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-155-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….