Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 November 2023:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Israel het sy ambassadeur in Suid-Afrika, Eli Belotserkovsky herroep vir samesprekings. Dit volg nadat die regering gesê het die land moet aangekla word van volksmoord.
GAUTENG:
# Beeld:
Is die eerste van die drie Media24-susterskoerante wat berig oor die huldeblyke na die dood van die oud-Springbok en eienaar van die Pharma Valu-apteekgroep, Hannes Strydom. Hy is op die N4 naby eMalahleni in Mpumalanga in ‘n motorongeluk dood. Nog ‘n persoon het in die ongeluk omgekom en vier is ernstig beseer.
Dan skryf die koerant die City Power in Johannesburg het besluit om nie Eskom se hulp in te roep met sy foutiewe beurtkragrooster nie.
En laastens is daar nuus oor die 58-jarige Patrick Walker van Johannesburg wat tydens die 947 Ride Joburg-fietswedren dood is.
# Sowetan:
Berig Suid-Afrika is geen plek vir kinders nie. Altesaam 4,8-miljoen kinders in die land leef in armoede, een uit elke sewe ly aan geestesgesondheidsprobleme en daar is meer as 17-duisend gevalle van kindermishandeling en -verwaarlosing aangemeld.
# En The Citizen:
Lei met: “VOTER TURNOUT KEY IN 2024”. Die koerant skryf hoewel die OVK gelukkig is oor hul interaksie met kiesers is dit ‘n ope vraag of die mense volgende jaar gaan stem.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig soos Beeld oor die dood van Hannes Strydom.
En tweedens skryf die koerant die Matjhabeng-munisipaliteit in die Goudveld het hom tot die Hooggeregshof in Johannesburg gewend om alle skuldeiseroptrede teen die munisipaliteit vir 90 dae op te hef.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens word berig ‘n oudonderwyser van ‘n spogskool in die Paarl is in hegtenis geneem in verband met die beweerde verkragting van ‘n leerder.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande het na oorweging besluit om vir eers enige optrede ten opsigte van Unisa te staak.
En berig tweedens die weduwee van die vermoorde aktivis, Loyiso Nkohla, Nyameka Nkohla-Mabandla se naam was glo ingesluit op ‘n moordlys.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is talle vrae nadat die liggaam van ‘n vrou naby ‘n kliniek in George aangetref is. Die gemeenskap betoog nou buite die kliniek omdat die vrou na bewering behandeling geweier is.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Kariega is geskok oor die moord op die DA-gemeenskapsaktivis, Justice Jama.
# En Dispatch in Oos-Londen:
Skryf die Universiteit van Fort Hare se direkteur van ondersoeke, Isaac Plaatjies het in die hof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord. Hy is die tiende persoon wat op die kampus in hegtenis geneem is vir soortgelyke aanklagte.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die polisiebeampte wat tydens ‘n rooftog by die Pavilion-winkelsentrum doodgeskiet is, sersant Riyadh Adams word beskryf as ‘n toegewyde lid van die diens wat sukses behaal het teen dwelmhandelaars.
En tweedens word berig kenners is van mening Israel is besig om Palestynse gesondheidsorg te vernietig.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Lei met die nuus dat talle handelaars se produkte wat vir Kersfees bestel is in die Durbanse hawe vertraag word.
En skryf oor ‘n hittegolfwaarskuwing vir KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n vermeende stroper wat reeds ’n klag van poging tot moord en onwettige jag in die gesig staar, is weer in Okahandja in hegtenis geneem, die keer vir onwettige jag.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van nedersettings in Okahandja se versoek vir ’n vergadering met president Hage Geingob om hul probleme te bespreek, is van die hand gewys.