Nuus 06:00
BULLETIN 11 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika mik na ’n brandstofreserwe van 60 dae
# Die polisie sê die Cleveland-slagting kan gekoppel word aan onwettige mynbou
# En rugby: Ruben van Heerden vervang Salmaan Moerat in die Bokke se oefengroep
# Die regering beplan om noodbrandstofvoorrade aansienlik te verhoog nadat ‘n oorsig groot swakpunte in die petroleumsekuriteitstelsel gevind het. Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het gesê ‘n konsepbeleid stel voor om strategiese brandstofreserwes op te bou tot 60 dae se netto-invoere. Die huidige vlak is omtrent twee weke. Hy sê die plan is daarop gemik om energiesekerheid te verbeter te midde van globale voorsieningsrisiko’s en konflikverwante ontwrigtings:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die hervormings in die departement is daarop gemik om verantwoordbaarheid te verbeter, openbare geld te beskerm en voortslepende institusionele mislukkings aan te spreek. Hy het kommer uitgespreek oor die Eiendomsbestuurshandelsentiteit, wat verantwoordelik is vir die bestuur van een van Suid-Afrika se grootste openbare eiendomsportefeuljes. Hy sê dit is finansieel onbestendig en operasioneel swak. Die entiteit se oortrokke rekening het verdubbel tot byna vier-miljard-rand en dit het sedert 2014 nie ‘n skoon oudit behaal nie. Macpherson sê die departement kan nie herbou word sonder om interne mislukking te konfronteer nie.
# Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê Dinsdagaand se massaskietery in die Jumpers informele nedersetting in Cleveland, Johannesburg, kan gekoppel word aan onwettige mynbou in die gebied. Die skietery het die lewens van 12 mense geëis en ten minste nege is gewond. Die polisie het ‘n soektog na ongeveer tien verdagtes van stapel gestuur. Mthombeni sê die voorval was moontlik die gevolg van ‘n vete tussen onwettige mynwerkers in die gebied:
# President Donald Trump sê Iran het te lank geneem om ‘n ooreenkoms te onderhandel en sal nou die prys moet betaal. Dit volg nadat die twee mekaar aangeval het nadat ‘n Amerikaanse helikopter vroeër hierdie week afgeskiet is. Die Amerikaanse weermag het Iranse lugverdediging, grondbeheerstasies en radarterreine geteiken. In vergeldingsaanvalle het Teheran Amerikaanse basisse in Jordanië, Bahrein en Koeweit aangeval. Trump het by die Withuis gesê al wat Iran hoef te doen is om die ooreenkoms te onderteken:
# Rugby: Slot Salmaan Moerat se toekoms as toetsspeler is onseker nadat hy hom weens ‘n besering aan die Springbokke se oefenkamp in Johannesburg moes onttrek. Hy is vervang deur sy Stormers-spanmaat Ruben van Heerden, wat tydens die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen uitgeblink het. Die groep berei voor vir die eerste toets van die seisoen, teen die Barbarians in Gqeberha volgende Saterdag. Op dieselfde dag sal Suid-Afrika A op dieselfde veld teen Zimbabwe te staan kom. Bok-afrigter Rassie Erasmus sal volgende week sy span vir die toets aankondig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-475-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-63-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe studie deur die Universiteit van Kaapstad het bevind dat Suid-Afrika se borskanker-sorgstelsel baie vroue in die steek laat weens ernstige tekorte aan spesialiste, toerusting en toegang tot tydige behandeling. Die navorsing toon dat die meeste pasiënte eers in ‘n laat stadium gediagnoseer word, terwyl sowat twee-derdes reeds aan gevorderde siekte ly. Navorsers sê vroeër opsporing, verbeterde fasiliteite en sterker ondersteuning deur die gesondheidstelsel is nodig om oorlewingsyfers te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….