Nuus 06:00
BULLETIN 15 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi gee aandag aan toerisme-kwessies en die visumbeleid
# Die Spesiale Ondersoekeenheid bestempel die Nasionale Loterykommissie as ‘n misdadige onderneming
# En, Israel gee opdrag dat die grootste hospitaal in suide van Gaza ontruim word
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, sê die onlangs gepubliseerde Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingwetgewing sal die immigrasiestelsel heeltemal hersien. Hy het tydens die Staatsrede-debat toegegee verlede jaar se riglyn was verwarrend, maar het volgehou dit was bedoel om intern te wees. Die Witskrif is ingestel vir die vestiging van ‘n proses vir buitelanders om verblyf en burgerskap te verkry. Motsoaledi sê, 32 lande het nie meer toeriste-visums vir Suid-Afrika nodig nie:
# Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, het die Nasionale Loterykommissie as ‘n misdadige onderneming bestempel. ‘n Samespanningsnetwerk van minstens 1,4-miljard-rand is ontdek waarby loterybeamptes, voormalige raadslede, prokureurs en organisasies sonder winsbejag betrek word. Beslag is gelê op die eiendom van bekendes soos die aktrise Terry Pheto en die musikant Arthur Mafokate om van die geld te verhaal. Mothibi sê geld wat vir kleuterskole bedoel was, is na mense en firmas herlei. ‘n Tussentydse verslag word teen die einde van die maand verwag.
# Action Society het beloof om slagoffers van polisiegeweld te beskerm en doen ‘n beroep dat korrupte polisiebeamptes verwyder word, beginnende met minister Bheki Cele. Hulle bepleit polisiehervorming en verskerpte pogings om die Suid-Afrikaanse Polisiediens van misdadige elemente te suiwer. Die organisasie het ontstellende syfers onthul van drie-duisend-981 polisielede wat op ernstige strafregtelike aanklagte teregstaan. Ian Cameron van Action Society sê die agt bloulig-polisielede wat na bewering betrokke was by die wrede aanranding van ‘n motoris in Johannesburg, is steeds in diens:
# ‘n Amerikaanse burger, die 23-jarige Phillips Olagoke Allen Bakare, is Vrydagoggend by die gewilde Green Point Backpackers in Kaapstad doodgesteek. Bakare was op ʼn sendingreis in Kaapstad. Die Amerikaanse kerkgroep saam met wie hy was, is enkele dae voor sy dood reeds terug Amerika toe. Volgens ooggetuies was hy in ʼn onderonsie betrokke met die 27-jarige Gedeon Tshimowa. Tshimowa is ʼn Kongolese burger en het reeds op ʼn aanklag van moord in die hof verskyn. Die saak is tot 27 Februarie uitgestel.
# Palestyne sê Israelse magte het duisende ontwortelde mense opdrag gegee om die Nasser Mediese Kompleks te ontruim. Dit is die grootste hospitaal in die suide van die Gaza-strook. Israel se weermag sê hy het ʼn veilige roete vir burgerlikes geopen, maar beoog nie om pasiënte en mediese personeel te verwyder nie. Die Verenigde Nasies sê die hospitaal is reeds byna ʼn week onder beleg en funksioneer minimaal. Die Israelse weermag het Hamas-soldate voorheen beskuldig dat hulle van binne en rondom hospitale optree, maar die gewapende groep en mediese beamptes ontken dit.
# Motorsport: Lewis Hamilton sê hy was emosioneel met die bekendstelling van sy Mercedes vir die nuwe Formule Een-seisoen. Hy het onlangs aangekondig dat hy einde vanjaar by Ferrari gaan aansluit en sê die vooruitsig om in die beroemde rooi motor te jaag, was net te moeilik om van die hand te wys. Die Britse jaer het ses van sy sewe wêreldkampioenskaps-titels gewen sedert hy in 2013 by Mercedes aangesluit het, maar kon die afgelope twee seisoene nie ‘n wedren wen nie. Hy is uiters gemotiveerd om sake vanjaar te verander.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-904-dollar-22-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….