Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Februarie 2024:
Maroela Media:
Skryf Lauren Dickason wat haar drie kinders in Nieu-Seeland vermoor het, sal moontlik op 20 Maart gevonnis word,
dan berig die blad die massiewe reddingsboeie wat aan staatsondernemings soos Eskom, Transnet en die SA Poskantoor betaal word, verhoed nie dat die ondernemings steeds deur skuld verswelg word nie,
en laastens is daar nuus oor die Springbok-rugbyspan wat aangewys is as die Nasionale Persklub se nuusmaker van die jaar.
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die gebrek aan samewerking deur regspraktisyns en eiendomsagentskappe oor versoeke deur die Finansiële Intelligensiesentrum vir kritieke inligting wat deur die Finansiële Aksie-taakmag vereis word, dreig om Suid-Afrika se bod om van die taakmag se gryslys verwyder te word, te ontspoor.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met nuus oor die ANC se beplande missie na Moskou om die oorheersing van die Weste te troef. Die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula gaan aan die stigting van ‘n organisasie deelneem om neokolonialisme te bestry.
Dan skryf die koerant oor Ellispark wat alles in gereedheid bring vir die kragmeting Saterdag tussen die Leeus en die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap.
En laastens word berig ‘n werknemer van Transnet in Bloemfontein is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir kabeldiefstal.
# The Star en Pretoria News:
Skryf verskeie bekende persoonlikhede word betrek by die grootskaalse bedrog wat die Spesiale Ondersoekeenheid by die Nasionale Loterykommissie blootgelê het.
En tweedens waarsku die koerant sy lesers moet bedag wees op bedrieërs in aanloop tot die verkiesing.
# Sowetan:
Berig oor die luukse lewenstyl van die vermeende onwettige mynbaas van Carletonville, Bethuel Ngobeni. Hy het glo ‘n gesteelde identiteit gebruik om sy uitspattige lewenstyl te befonds.
# En The Citizen:
Skryf die Nasionale Mediese Vereniging sê die Nasionale Gesondheidsversekering moet vertraag word totdat al die probleme in die mediese sektor opgelos is. Die vereniging oorweeg regstappe indien die NGV voortgaan.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die 62-jarige Nellen van Breda wat na bewering sy 60-jarige verloofde, Retha van der Merwe doodgeskiet en daarna selfdood gepleeg het. Die liggame is in Van Breda se woning in Universitas gevind.
En tweedens skryf die koerant oor die moordsaak van die 28-jarige boer van Ficksburg, Evan Sorour. ‘n Patoloog van Bethlehem, dokter Ebert Kleynhans het getuig die eerste skoot wat op Sorour afgevuur is, het sy dood veroorsaak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig agt vooraanstaande mediese dokters het hul steun toegesê aan die wettiging van bystanddood in Suid-Afrika.
En tweedens word berig ‘n voormalige rugbyagent, Chris de Beer is tot twee jaar huisarres gevonnis nadat hy skuld beken het op 12 aanklagte van bedrog.
# En Cape Times:
Berig ook oor die bedrog by die Nasionale Loterykommissie. Die SOE het die organisasie as ‘n misdadige onderneming bestempel.
En tweedens skryf die koerant die gemors by die NSFAS is in die Parlement blootgelê.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die stadbestuurder van Nelson Mandelabaai, Noxolo Nqwazi sê die jongste pogings om haar te skors is onwettig, ongrondwetlik en irrasioneel.
En tweedens is daar nuus oor ‘n vrou wat in Noordeinde ontvoer is, maar daarin geslaag het om te ontsnap by ‘n perseel in Motherwell waar sy aangehou is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n mosie om die stadsraad van eThekwini te ontbind het nie geslaag nie. Die DA sê dis ‘n geleentheid verlore om die stad reg te ruk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se hersiende leerplan kry volgens ’n ondersoek die grootste skuld vir die stygende getal druipelinge.
En skryf tweedens ’n miljoen rand vir ’n buitelandse besoek deur beamptes van die Nasionale Raad aan Genève sluit glo geld vir wintersdrag in.