Nuus 06:00
BULLETIN 12 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verbetering in die vlakke van beurtkrag word teen Woensdag verwag
# Die minister van Elektrisiteit sê Eskom sal voortgaan om beplande instandhouding te verskerp
# En, minister Angie Motshekga stuur vandag die 2024 Skoolbeheerliggaam-verkiesing van stapel
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê ‘n aansienlike verbetering in beurtkragfases word teen Woensdag verwag. Sowat vierduisend-400 megawatt opgewekte krag is die einde van die week van die netwerk verwyder as gevolg van ketelbuislekke. Dit het gelei tot die afskakel van nege opwekkingseenhede wat die land in fase ses-beurtkrag gedompel het. Ramokgopa sê Eskom se bestuur het die probleme met groot kommer geïdentifiseer as die vernaamste oorsaak vir die afskakel van eenhede:
# Die minister sê verder die opskerping van beplande instandhouding is ‘n berekende risiko waarmee Eskom sal voortgaan. Die kragvoorsiener handhaaf tans hoë vlakke van instandhouding, wat sowat sewe-duisend megawatt van die netwerk verwyder het. Die minister sê dit dra by tot die risiko van hoër beurtkrag in geval van onverwagte onderbrekings. Hy voeg by hierdie korttermyn-ongemak is die langtermyn-wins werd, aangesien dit gesonder kragstasies tot gevolg het:
# Die Oos-Kaapse polisie het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met ‘n poging tot moord op die Oos-Londense prokureur en voormalige waarnemende regter Camagu Maseti. Hy is Vrydagoggend gewond in ‘n klaarblyklik mislukte sluipmoordaanval buite sy kantoor in Vincent. Die skietery hou glo verband met regswerk wat hy gedoen het. Polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu, sê al vyf verdagtes word aangehou op aanklagte van poging tot moord met nog moontlike aanklagte soos die ondersoek vorder.
# Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, sal vandag die 2024 Skoolbeheerliggaam-verkiesing in Pretoria bekendstel. Die verkiesing, wat landwyd vanaf 1 Maart 2024 geskeduleer is, is deurslaggewend vir 1skoolbestuur en is ‘n wettige vereiste. ‘n Skoolbeheerliggaam bestaan uit ouers, onderwysers, nie-onderwyspersoneel, leerders en die skoolhoof, en word elke drie jaar verkies om verteenwoordiging en doeltreffende bestuur in skole regoor die land te verseker.
# Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie het voormalige Amerikaanse president Donald Trump gekritiseer en sê die organisasie is gereed én in staat om alle bondgenote te verdedig. Trump het Saterdag by ‘n saamtrek in Suid-Carolina gesê hy sal Rusland aanmoedig om te doen wat hy ook al wil doen aan enige NAVO-lidland wat nie die bestedingsriglyne op verdediging nakom nie. NAVO sê enige suggestie dat bondgenote mekaar nie sal verdedig nie, ondermyn almal se veiligheid, insluitend dié van die VSA, en stel Amerikaanse en Europese soldate in gevaar.
# Gholf: Mikael Lindberg van Swede het daarin geslaag om die Suid-Afrikaner Ryan van Velzen in die uitspeelronde te klop en daarmee die Kaapstad-ope by die Royal Cape Gholfklub ingepalm. Hy het ‘n voëltjie op die tweede uitspeelputjie behaal en daarmee die oorwinning beklink. Louis Albertse van Suid-Afrika het derde geëindig op 15 onder met ‘n laaste ronde van 67. Lindberg is die tweede Sweed wat die Kaapstad-ope wen en sê dit is ‘n belangrike oorwinning vir hom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-464-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-23-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….