Nuus 06:00
BULLETIN 7 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ses leerders is dood en 52 beseer in ‘n busongeluk in die Vrystaat
# Die Parlement stel voor die Staatsrede nuwe reëls bekend om orde en goeie gedrag te verseker
# En, die Hof beslis Donald Trump het nie presidensiële immuniteit teen vervolging nie
# Ses leerders is dood toe die bus waarin hulle gery het gisteraand op die R70 tussen Ventersburg en Senekal in die Vrystaat omgeslaan het. Premier Mxolisi Dukwana sê daar was 58 meisies van die Hoërskool Riebeeckstad in die bus. Hulle was op pad terug na Riebeeckstad in Welkom, na ‘n sportbyeenkoms vir meisies in Moolmanshoek naby Rosendal. Die premier sê die dood van die leerders is ‘n verlies vir die toekoms van die provinsie.
# Die regering sê hy het verreikende stappe gedoen om die ekonomie te herbou in die nadraai van staatskaping, die vernietigende, wêreldwye Covid-19-pandemie en ‘n verlammende elektrisiteitskrisis. Die Presidensie het ʼn dokument getiteld Leave No One Behind 2024 – A Five-Year Review bekend gestel met die vordering wat sedert 2019 in Suid-Afrika se herstel en heropbou gemaak is. Die regering sê hy het belegging, groei en werkskepping bevorder met meer as 1,5-duisend-miljard-rand se nuwe beleggings wat by vyf Suid-Afrikaanse beleggingskonferensies beloof is. Hy erken daar is nog baie werk om te doen.
# Die Parlement het ‘n stel nuwe gesamentlike reëls ingestel wat ontwerp is om gesamentlike sittings van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies te reguleer, en ontwrigtings verbied. Die jaarlikse Staatsrede vind môre plaas en word vir die derde keer in die Kaapstadse stadsaal gehou. ‘n Bedrag van 6,5-miljoen-rand is vir die geleentheid begroot. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê die nuwe gesamentlike reëls is daarop gemik om orde en goeie gedrag in die Raad te verseker:
# Die Stad Tshwane het sy energie-onafhanklikheid bevorder met ‘n versoek vir inligting wat onafhanklike kragvervaardigers vir alternatiewe energie-oplossings teiken. Die versoek het ten doel om die energiemengsel by die Pretoria-Wes en Rooiwal-kragstasies te wysig om afhanklikheid van Eskom te verminder. Die raad het ‘n 40-jaar-huurkontrak vir die twee kragstasies goedgekeur, met die doel om binne drie-jaar een-duisend megawatt vanaf alternatiewe bronne te verkry om die uitwerking van beurtkrag te versag. Die versoek is beskikbaar op die stad en die Nasionale Tesourie se webwerwe.
# Die Amerikaanse Appèlhof het beslis oudpresident Donald Trump is nie van kriminele vervolging vrygestel in sy saak oor die ondermyning van die federale verkiesing nie. Die 77-jarige Trump het aangevoer hy is immuun teen strafregtelike aanklagte vir dade wat volgens hom binne sy pligte as president geval het. ’n Paneel met drie regters het egter bevind daar is geen grondslag vir Trump se bewering dat voormalige presidente volle vrywaring teen vervolging het nie. Trump is daarvan aangekla dat hy saamgesweer het om president Joe Biden se oorwinning in die 2020-verkiesing omver te werp en bedrog gepleeg het om as president aan te bly.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Indië, het na hul vyfde agtereenvolgende onder-19 Wêreldbeker-eindstryd deurgedring, nadat hulle Suid-Afrika met twee paaltjies op Willowmoorepark in Benoni geklop het. Danksy Lhuan-dre Pretorius se 76 lopies en 64 deur Richard Seletswane kon die gashere 244 vir sewe bereik. Indië het sy beurt wankelrig begin en vroeë paaltjies verloor, maar ‘n vennootskap van 171 tussen kaptein Uday Saharan en Sachin Dhas het die besoekers tot ‘n oorwinning gelei met nog sewe balle oor. Indië sal in die eindstryd teen of Pakistan of Australië te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-120-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………