Nuus 06:00
BULLETIN 6 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid sê 46 vermeende cholera-gevalle is aangeteken
# Koning Charles met kanker gediagnoseer
# En krieket, die jong Proteas speel teen Indië vir ‘n plek in die eindstryd van die Onder 19-Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê 46 vermeende cholera-gevalle en vyf laboratorium-bevestigde gevalle is tussen die eerste Januarie en die eerste van hierdie maand aangeteken. Drie van hierdie gevalle kom uit die buurland, Zimbabwe, wat tans worstel met ‘n uitbreking van dié diarree-agtige siekte. Volgens Phaahla dui twee van die gevalle, ‘n 11-jarige en ‘n 13-jarige in Limpopo sonder enige reisgeskiedenis, op ‘n plaaslike oordragrisiko. Hy doen ‘n beroep op die publiek om versigtig te wees en goeie higiëne te handhaaf:
# Die DA verwelkom die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, se verlenging, tot 23 Maart, van die sperdatum vir openbare kommentaar oor die konsep-Geïntegreerde Hulpbronplan. Die party het die verlenging versoek weens ‘n vertraging met die vrystelling van die plan en te min tyd vir belanghebbendes om die meriete daarvan te hersien. Kevin Mileham van die DA sê hulle is besig om voorleggings voor te berei en beoog om teenstrydighede in die huidige weergawe uit te lig. Dit sluit in die ontkoppeling tussen die geskatte energiebeskikbaarheidsfaktor en verbeterings aan die opwekkingsvermoë.
# Die DA in Tshwane sê hy veroordeel president Cyril Ramaphosa se skaamtelose poging om goedkoop politieke punte aan te teken terwyl hy sy ANC-veldtog in Mamelodi voer. Ramaphosa sê die mense van Mamelodi se uitdagings, insluitend die waterkrisis, is alles die DA-geleide regering in Tshwane se skuld. Kwena Moloto van die DA sê dit kom voor die president is meer in politiekery geïnteresseerd as om gemeenskappe se probleme aan te spreek:
# Registrasie vir die herskryf van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in die Wes-Kaap sluit oor vier dae. Die provinsiale Departement van Onderwys het matrieks wat ontevrede is met hul uitslae versoek om die Tweede Kans Matriekprogram aan te gryp. Die departement se woordvoerder, Millecent Merton, het die voordele van die program beklemtoon, insluitend gratis onderrig vir geregistreerde privaat kandidate:
# Buckingham-paleis het bevestig dat koning Charles die Derde met kanker gediagnoseer is en reeds met behandeling begin het. Die diagnose is onlangs gemaak terwyl die koning by ‘n kliniek in Londen behandeling ondergaan het vir ‘n nie-kwaadaardige vergrote prostaat. Die Paleis sê daaropvolgende toetse het ‘n ander vorm van kanker gediagnoseer. Die 75-jarige koning sal voorlopig al sy openbare optredes staak. Volgens die Paleis is die koning positief oor sy behandeling en hy sien daarna uit om sy openbare pligte so spoedig moontlik ten volle te hervat.
# Krieket: Die jong Proteas speel vandag in Benoni, Gauteng, teen Indië om ‘n plek in Sondag se eindstryd van die Onder 19-Wêreldbekertoernooi. Die gasheer het in die Super Sesse-afdeling in die tweede plek in Groep 2 geëindig na Australië, wat teen Pakistan te staan kom in môre se tweede halfeindstryd op dieselfde veld. Indië en Pakistan het onderskeidelik eerste en tweede geëindig in Groep 1. Die eindstryd word ook op Willowmoorepark aan die Oos-Rand gespeel. Indië het die toernooi al ‘n rekord vyf keer gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-661-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-27-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….