Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die vermeende kartelbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala wil die Madlanga-kommissie verhoed om toegang te verkry tot die beëdigde verklarings in sy mislukte pleitooreenkoms. Die koerant skryf die verklarings bevat inligting oor Matlala se beweerde betrokkenheid by ‘n polisie-tenderskandaal ten bedrae van nagenoeg 228-miljoen-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief erken dat hoewel die land reeds 400 dae sonder beurtkrag gehad het, bly die ekonomiese groei steeds traag.
En tweedens skryf die webblad die MK-party wil hê die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, moet verduidelik oor die beweerde 19 aanstellings in sy departement wat glo bande het met sy party, die Patriotic Alliance.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor Matlala se getuienis voor die Madlanga-kommissie. Die koerant berig hy het geweier om kommentaar te lewer oor sy verhouding met die geskorste adjunkkommissaris, Shadrack Sibiya, insluitend bewerings dat hy rooibokke vir die generaal gegee het. Matlala het gesê hy gaan homself nie inkrimineer nie.
# Sowetan:
Berig nog slagoffers van die Tshwane metropolisiebeampte, Peter Nonyane, en sy prokureurvrou, Charlotte Tibana, het na vore gekom. Die Maswangani-koningshuis beskuldig Tibana van bedrog met hul afgestorwe oom se boedel van 4,6-miljoen-rand.
# En The Citizen:
Skryf daar is onmin in DA-geledere in Ekurhuleni met die voormalige burgemeester, Tania Campbell, wat vrae moet beantwoord oor die beheer van tenders.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die moord op die 89-jarige Hannetjie Koen van Bloemhof wat dood is nadat sy in haar huis aangeval en aangerand is. Haar seun, Boeta, wat op sy ma afgekom het is diep geskok oor die wreedheid waarmee die aanval gepaard gegaan het.
Tweedens skryf die koerant daar bestaan kommer oor die landswye uitbreking van masels. ‘n Mediese dokter waarsku mense om ingeënt te word.
En laastens is daar nuus oor ‘n seldsame grootbekhaai, wat slegs in die diepsee voorkom en nou by St Helenabaai uitgespoel het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig betogers het buite die hof saamgedrom om te keer dat ‘n man wat beskuldig word dat hy ‘n verstandelik gestremde seun seksueel aangerand het, borgtog ontvang.
En tweedens skryf die koerant die Nasionale Tesourie het die Nelson Mandelabaai-metro gekeer om 23-miljard-rand af te skryf.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die liggame van twee vroue van Richmond wat verlede Maandag vermis geraak het, is in afsonderlike vlak grafte in die Emsengeni-bos gevind. Die koerant berig die 34-jarige Pinky Shelembe en haar vriendin, die 44-jarige Ntombizane Mbanjwa, is as vermis aangemeld nadat hulle in die Richmond-omgewing verdwyn het.
En tweedens word berig die vermiste Anesen Pillay van Pietermaritzburg se uitgebrande voertuig is in die France-township gevind. Hy is kort voor twee uur Saterdagmiddag laas gesien toe hy ‘n begrafnis in die Aryan-saal bygewoon het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n privaat maatskappy het die helfte van die dadelboerdery op die staat se Naute-besproeiingsplaas naby Keetmanshoop teen 233-miljoen-rand oorgeneem.
En tweedens skryf die koerant sedert die vestiging van die Wildmisdaadhof in Otjiwarongo twee jaar gelede, het die hof 50 sake aangehoor, waarvan 47 tot skuldigbevindings gelei het.