Nuus 06:00
BULLETIN 6 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie sê Suid-Afrika is gelukkig om president Ramaphosa te hê
# President Trump plaas die skuld vir die swak verkiesingsuitslae op die regeringsafsluiting
# En rugby: Nick Mallett sê Sacha Feinberg-Mngomezulu is nie arrogant nie, net selfversekerd
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê Suid-Afrika is gelukkig om president Cyril Ramaphosa aan die stuur te hê. Cachalia het voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn en Ramaphosa se leierskap in die stryd teen korrupsie, georganiseerde misdaad en die heropbou van instellings geprys. Hy het beklemtoon dat sterk presidensiële leierskap die sleutel bly tot die hantering van sistemiese swakhede en die versekering van bestendigheid in die land se strafregstelsel:
Cachalia sê die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, se uniform tydens sy media-inligtingsessie op 6 Julie het kommer oor ‘n moontlike staatsgreep laat ontstaan. Cachalia sê Mkhwanazi se voorkoms was kommerwekkend, veral omdat hy bewerings van politieke inmenging deur die minister van die Polisie, Senzo Mchunu en bande met kriminele kartelle gemaak het:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van SAFA, Russell Patrick Paul, by die bedrogsaak teen Danny Jordaan en drie ander gevoeg. Phindi Mjonondwane van die NVG sê Paul het na bewering met die beskuldigdes saamgesweer om bedrog te pleeg deur betalings sonder ‘n kontrak goed te keur. Mjonondwane sê Paul het in die Palmridge-landdroshof verskyn en is borgtog van tien-duisend-rand toegestaan. Die saak hervat op 21 November:
# Die Departement van Kleinsakeontwikkeling het die Konsepwetsontwerp op Besigheidslisensiëring vir openbare kommentaar gepubliseer. Die wetsontwerp is daarop gemik om plaaslike rade te bemagtig om voorkeurlisensiëring te bied aan klein besighede wat deur benadeelde groepe besit word. Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika het kommer uitgespreek oor vae taal, moontlike uitsluitingspraktyke en onpraktiese implementering. NEASA waarsku dat die wetgewing die werking van die vryemark kan benadeel en deelname aan Suid-Afrika se informele ekonomie kan belemmer.
# President Donald Trump sê die regeringsafsluiting was ‘n groot negatiewe faktor vir die Republikeine in Dinsdag se verkiesingsuitslae. Die demokratiese sosialis Zohran Mamdani het die burgemeestersverkiesing in New York Stad gewen, terwyl die Demokrate Abigail Spanberger en Mikie Sherrill hul onderskeie goewerneursverkiesings in Virginia en New Jersey gewen het. Die verkiesing is gesien as die eerste groot toets vir Trump se tweede presidentskap. In ‘n toespraak aan die Republikeine in die Senaat by die Withuis het Trump gesê hulle het baie uit die verkiesingsuitslae geleer.
# Rugby: Die voormalige Springbok-speler en afrigter Nick Mallett glo die jong losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu is nie arrogant nie, net selfversekerd. Hy sê Sacha het wel ‘n effense houding, maar wys daarop dat dit met jeug en talent gepaard gaan, en hy gebruik dit tot sy eie en die voordeel van die nasionale span. Mallett sê ook die Bokke aanvaar die hupstoot van ‘n nuwe superster met graagte, hoewel sommige mense voel dit grens aan arrogansie. Hy dink vertroue in sport is ‘n massiewe voordeel, en meen Feinberg-Mngomezulu het ‘n wen-houding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-751-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-979-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….