Nuus 06:00
BULLETIN 29 Januarie 6 vm
Goeiemôre/ Ek is……..
In die bulletin:
# Build One South Africa verbind hom tot twee-miljoen werksgeleenthede indien hy aan bewind kom
# Die moordverhoor van die Teen-Bende-eenheidspeurder Charl Kinnear begin vandag
# En tennis, Jannik Sinner is trots op hoe hy sy eerste Grand Slam-titel verower het
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, sê hy is daarvan oortuig die vinnigste en sekerste manier om die land te bou, is om meer werk te skep, meer rykdom vir gesinne te verseker, en te deel met mense wat in nood is. Hy het gister die party se verkiesingsmanifes in Tshwane onthul. Die manifes het ten doel om ‘n werkende persoon in elke huis te plaas en die ekonomie te laat groei. Maimane sê die party se werksplan is daartoe verbind om indien BOSA aan bewind kom, oor die volgende vyf jaar twee-miljoen werksgeleenthede te skep:
# Eskom gaan tot verdere kennisgewing voort met die instel van fase twee-beurtkrag, ten spyte daarvan dat vyf opwekkingseenhede gedurende die afgelope 36 uur weer aangeskakel is. Die kragvoorsiener se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die behoefte om die noodreserwes aan te vul en te stabiliseer, ter voorbereiding van die elektrisiteitsaanvraag op weeksdae, asook die geringe verswakking in beskikbare opwekkingskapasiteit, noodsaak die voortsetting van beurtkrag. Sy sê hulle gaan voort om die stelsel noukeurig te monitor:
# Die moordverhoor van die Teen-Bende-eenheidspeurder, Charl Kinnear, begin vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Hy is in September 2020 in sy motor buite sy huis in Bishop Lavis vermoor. Die hoof- en medebeskuldigdes, die vermeende boeweleiers Nafiz Modack, Zane Kilian, en nog ander, word daarvan aangekla dat hulle Kinnear vermoor het. Hulle word ook beskuldig van moord op minstens drie ander, die sluipmoordpoging op die Kaapstadse advokaat William Booth en die onwettige selfoonopsporing van teikens, insluitend Kinnear se weduwee Nicolette.
# Die IVP in KwaZulu-Natal sê hy is diep bekommerd oor die hoë aantal werklose gegradueerde onderwysers en vakante onderwysposte in die provinsie. Die LUR vir Onderwys, Mbali Frazer, het onlangs onthul daar is 25-duisend-566 werklose gegradueerde onderwysers en drie-duisend-720 vakante onderwysposte. Die IVP sê dit is verwarrend dat daar baie vakante onderwysposte is terwyl die provinsiale Departement van Onderwys ‘n begroting van 60,6-miljard-rand gedurende die 2023/2024-boekjaar toegeken is, wat die grootste deel van die provinsiale begroting, naamlik 41,5-persent verteenwoordig.
# Die Finne het gister gestem om ‘n nuwe president te verkies. Die groeiende spanning met die buurland Rusland sedert die inval in Oekraïne het die pos in belangrikheid laat toeneem. Terwyl die president se magte beperk is, help die staatshoof, wat ook die hoofbevelvoerder is van Finland se weermag, om buitelandse beleid in samewerking met die regering te bepaal. Dit beteken die veranderende geopolitiese landskap in Europa sal die wenner se grootste bron van kommer wees. AFP berig al die presidensiële kandidate is voorstanders van beide Finland se onafhanklikheid en sy nuwe rol as ‘n lid van NAVO.
# Tennis: Die vierde gekeurde Jannik Sinner sê om sy eerste Grand Slam-titel te wen is vir hom ‘n baie groot prestasie. Die Italianer het die eerste twee stelle verloor maar teruggeveg om Daniil Medvedev van Rusland met 3-6, 3-6, 6-4, 6-4, 6-3 te verslaan en die Australiese Ope vir die eerste keer te wen. Die 22-jarige is die eerste Italiaanse man sedert Adriano Panatta in 1976 wat ‘n Grand Slam kon wen en net die derde Italiaanse man in die geskiedenis. Sinner sê hy is trots op hoe hy teruggeveg het ná die eerste twee stelle:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-171-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-24-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….